Friday 22 April 2016

Pannekoek-lasagna



Pannekoek-lasagna

Sorg dat jy ’n ronde bak gebruik wat net ’n rapsie groter as die pannekoeke is, sodat die pannekoek perfek daarin pas. Dis ook ’n lekker resep vir die plat ysterpot en kan maklik oor die vuur gemaak word.

Vleissous
■ 30 ml olie
■ 1 ui, gekap
■ 2 knoffelhuisies, gekap
■ 250 g beesmaalvleis
■ 250 g gemaalde varkvleis
■ 15 ml worcestersous
■ 15 ml tamatiepasta
■ 1 blik (410 g) tamatiepuree
■ 125 ml water
■ Sout, swartpeper en suiker na smaak
■ 5-10 ml gekapte vars OF 3 ml droë oreganum

Witsous
■ 45 ml botter
■ 45 ml koekmeel
■ 850 ml louwarm melk
■ Sout en peper na smaak
■ 6-8 pannekoeke
■ 2 eiers

Vir die vleissous: Verhit die olie en braai die ui en knoffel in ’n pot tot geurig. Voeg die vleis by en braai tot gaar. Voeg die res van die bestanddele by en verhit tot kookpunt. Prut vir 20 minute baie stadig, terwyl jy nou en dan roer. Terwyl die vleissous prut, maak ’n witsous van die botter, meel, melk, sout en peper. Voorverhit die oond tot 180°C..
Om saam te stel: Skep ’n dun lagie vleissous onder in ’oondbak en smeer gelyk. Sit ’n pannekoek bo-op en skep nog ’n lagie vleissous op die pannekoek. Skep ’n dun lagie witsous bo-oor die vleissous en bedek met nog ’n pannekoek. Herhaal die lae en hou sowat 250 ml witsous oor om bo-op te gebruik. As jy jou laaste lagie vleissous geskep het, voeg die eiers by die orige witsous en klits goed.
Skep die sous bo-op en bak vir 30 minute tot die sous goudbruin en die lasagne deurwarm is. Laat staan vir 10 minute voor jy die lasagne voorsit. Eet dit met ’n mengelslaai. Lewer 8 porsies.