Tuesday 19 April 2016

OREO SJOKOLADE MOUSSE KAASKOEK




My OREO SJOKOLADE MOUSSE KAASKOEK wat ek vir die Lancewood Cake-Off kompetisie begin April gemaak het. Hierdie kaaskoek is een waaroor jou gaste vir baie lank s...al praat. Ek het die resep self 'ontdek' en is ongelooflik trots daarop. Ek deel dit graag met so paar tips en tricks wat ek deur die proses geleer het. Probeer dit self en laat weet my hoe dit uitgekom het. - Chené Stoffberg


BESTANDDELE:
Kors:
2/3 pakkie Marie beskuitjies

100ml ongesoute botter, gesmelt
(Jy kan ook jou kors met 1 boks, so ongeveer 16, Oreo koekies en 4 eetlepels ongesoute botter maak...dit is ekstra lekker!)
Kaaskoek:
2 houers 230g Lancewood Medium Fat Cream Cheese
1 blik kondensmelk
Sap van 'n halwe suurlemoen
20ml gelatien
60ml koue water
250ml vars room
Mousse:
2x Oreo sjokolade slabs
500ml vars room
(As jy hier 'n bietjie ekstra kleur wil inbring, vervang een Oreo slab met dieselfde hoeveelheid goeie kwaliteit donkersjokolade om een van jou lae so bietjie donkerder te maak)
Ganache:
1x Oreo sjokolade slab (of self bietjie meer as jy die hele koek wil bedek soos in die foto)
50ml room
METODE:
Voer die binnekant van 'n 22cm losboom koekpan uit met asetaat. Jy kan sommer 'n ou xstraal gebruik wat jy opknip...maak net seker jy was hom mooi.
Kors:
Druk die koekies fyn met 'n koekroller, smelt die botter en meng dit saam. As jy die Oreo koekies gebruik kan jy dit in 'n voeselverwerker fynmaak. Druk die koekies in die onderkant van jou pan en los dit eenkant.
Kaaskoek:
Meng die roomkaas, kondensmelk en suurlemoensap saam in 'n elektriese menger tot glad. Gooi die koue water in 'n klein bakkie en sprinkel die gelatien daaroor sodat alles daarin oplos. Plaas nou die gelatien in die mikrogolf vir tien sekondes en roer dit goed. Herhaal dit dan nog twee keer sodat die mengsel warm en goed opgelos is maar nie kook nie. Voeg die warm mengsel dan dadelik by jou kaaskoek mengsel en meng goed. Klop die room styf en vou dit by die kaaskoek mengsel in. Skep nou die mengsel in jou koekpan en plaas dit in die yskas. Laat dit vir so uur stol voordat jy die mousse oorskep.
Mousse:
As jy twee lae wil maak, deel jou room in twee en maak eers die laag met die donkersjokolade en dan die een met die Oreo sjokolade.
Klop die room styf. Smelt die sjokolade en vou dit by die room in. Skep dit dan oor die kaaskoek in jou koekpan en plaas terug in die yskas om oornag te stol.
Wanneer die kaaskoek die volgende dag gestol het, haal dit versigtig uit die koekpan.
Ganache:
Maak die room warm in 'n klein potjie op die stoof. Die room moet warm word maar nie kook nie. Haal dit dan van die hitte af en gooi jou skokolade in. Roer dit met 'n houtlepel tot al die sjokolade gesmelt het en die ganache die tekstuur van dik vla aangeneem het. Gooi die ganache dan oor die kaaskoek. Jy kan self besluit of jy dit teen die kante wil laat afloop en of jy dit eerder 'n netjiese afwerking wil gee kan jy die ganache aan die kante smeer. Hiervoor moet jy so bietjie meer ganache maak en meer sjokolade byvoeg sodat die ganache die tekstuur van tandepaste bereik. (Ek weet nie of dit 'n goeie vergelyking vir 'n bakblog is nie, haha)
Versier die koek nes jy wil. Ek het sjokolade krulle gemaak en sjokolade skaafsels wat ek met 'n aartappelskillertjie gemaak het. Daar is baie oulike Youtube videos wat julle kan gaan kyk oor sjokolade werk en ek sal ook binnekort self 'n post daaroor doen. Ek stel voor dat julle na die How To Cook That kanaal gaan kyk vir oulike idees.