Tuesday 12 April 2016

Klassieke Pannekoek




Klassieke Pannekoek
 
Hou die mengsel sowat ’n week in ’n fles in die yskas. Vries dit in kleiner hoeveelhede as jy dit langer wil hou.

Lewer 40-50 pannekoeke
Bereidingstyd: 10 minute...
Rustyd: 30 minute
Gaarmaaktyd: 45 minute

PANNEKOEKMENGSEL:

5 ekstra groot eiers
5 x 250 ml (5 k) melk
5 ml (1 t) sout
500 ml (2 k) olie
15 ml (1 e) vanieljegeursel
4 x 250 ml (4 k) bruismeel
kaneelsuiker om oor te strooi
suurlemoenskyfies vir voorsit

1. Klits die eiers, melk, sout en olie saam.
2. Voeg die vanieljegeursel by en klits die bruismeel bietjies bietjies by die mengsel in.
3. Klits tot die mengsel glad is.
4. Laat die beslag minstens 30 minute rus voor jy dit bak.
5. Gebruik ’n soplepel en skep net genoeg beslag in die pan om die boom te bedek. Beweeg die pan sodat die beslag die hele boom vul.
6. Bak tot blasies op die oppervlak begin vorm. Lig van tyd tot tyd die kante van die pannekoek sodat enige rou beslag onderin kan loop.
7. Draai die pannekoek om met ’n eierspaan en bak tot ligbruin.

**Sprinkel kaneelsuiker oor, rol op en sit voor saam met suurlemoenskyfies.

Vir bêre:
Giet in ’n glasfles en bêre in die yskas.

  - Huisgenoot Digitaal