Wednesday 27 April 2016

Geurige tamatiesop met kaascroutons



Geurige tamatiesop met kaascroutons
Die oorgroot kaascroutons bo-op maak dit werklik spesiaal. (Maak ’n paar ekstra broodjies, want dit gaan vinnig verdwyn!)
■ 1 groot ui, fyn gekap
■ 3 knoffelhuisies, fyn gekap
■ 30 ml olie
■ 15 ml garam-masala
■ 1 klein rooi brandrissie, pitte verwyder en fyn gekap
■ 2 blikke (410 g elk) gekapte tamaties
■ 60 ml tamatiepasta
■ 2,5 liter hoenderaftreksel
■ 30 ml sagte bruinsuiker
■ Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
■ 125 ml room
Kaascroutons
■ 1 groot Franse of Italiaanse brood
■ 100 ml mayonnaise
■ 1 groot agurkie, baie fyn gekap
■ Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
■ 125 ml gerasperde cheddarkaas
■ 125 ml gerasperde parmesaankaas
Verhit die olie en braai die ui en knoffel stadig oor lae hitte tot sag. Voeg die garam-masala en brandrissie by en braai vir ’n paar sekondes, tot geurig. Voeg die tamaties, tamatiepasta, aftreksel en suiker by. Verhit tot kookpunt en prut stadig vir ongeveer 1 uur, tot die sop geurig en effens afgekook is. Geur met sout en peper na smaak. Verpulp die sop tot glad en roer die room by. Hou warm terwyl jy die kaascroutons maak. (Moenie die sop laat kook as jy dit wil herverhit nie.)
Vir die kaascroutons: Voorverhit die oond tot 200°C. Sny die brood in snye van 1 cm dik en pak op ’n bakplaat. Meng die mayonnaise en agurkie en smeer elke sny brood daarmee. Meng die twee soorte kaas en sprinkel dit op die brood. Geur met sout en peper. Oondrooster tot die broodjies goudbruin en die kaasbolaag borrelend is. Sit die croutons warm saam met die sop voor. Lewer ongeveer 10 porsies.