Tuesday 8 March 2016

Amarula- en Paasbolletjie-melkskommels


Amarula- en Paasbolletjie-melkskommels


Bedien 4
Bestanddele:
150 ml Amarula
1 liter volroommelk
1 liter vanieljeroomys
4 Paasbolletjies
50 g botter
5 ml gemengde speserye
5 ml gemaalde kaneel
250 ml strooisuiker
200 ml room
Só maak mens:
1. Sny die Paasbolletjies in 2 cm-blokkies en panbraai dit liggies in die botter en speserye vir vier minute oor medium hitte.
2. Sodra die blokkies gerooster is, voeg die melk by. ’n Voorafwaarskuwing: dit gaan nie baie mooi lyk nie, maar uiteindelik heerlik smaak!
3. Laat die melk en Paasbolletjies saam week totdat die melk kokend warm is. Giet deur ’n sif en plaas die melkmengsel in die yskas om heeltemal af te koel. Raak ontslae van die geweekte Paasbolletjies.
4. Maak solank ’n eenvoudige karamel deur die strooisuiker bietjie vir bietjie in ’n kastrol te smelt. Moet dit nie oor ’n hoë hitte doen nie omdat dit die karamel bitter sal maak. Sodra al die suiker bygevoeg en opgelos is, klop die room versigtig, ’n bietjie op ’n slag, daarby. Laat eenkant staan en afkoel.
5. Sodra die melk verkoel is, meng dit saam met die Amarula en roomys (buiten vir vier skeppies) in ’n vermenger tot glad. Verdeel die melkskommel in vier glase en sit ’n skeppie roomys bo-op elk. Drup van die karamel daaroor en bedien.