Monday 8 February 2016

Valerie Slabbert se Mini Kaaskoekies





Valerie Slabbert se Mini Kaaskoekies
Kors:

300g koekies (ek hou van die karamel tennisbeskuitjies)...
150g botter of margarien
(Indien jy 'n minder soet koekie gebruik voeg so eetlepel of wat strooisuiker by)


Vulsel:

1 x 250g houer volvet roomkaas (Lancewood het nou 'n volvet weergawe, asook Woolworths en natuurlik Philadelphia)
100 ml room (dit verhoog die vetinhoud van die vulsel wat dit laat stol - baie keer as jy laevet roomkaas gebruik stol die kaaskoek nie)
4 eetlepels koekmeel (50ml)
300ml strooisuiker (250g) (as ek nie strooisuiker het nie maak ek gewone suiker fyn in die voedselverwerker)
4 eiers
2 teelepels vanielje geursel
1 x 250ml houertjie suurroom

Bolaag:

1 x 250ml houertjie creme fraiche (R22-95 by woolworths)
1 eetlepel (12.5 ml) versiersuiker
1 eetlepel (12.5ml) suurlemoensap
Bessies (ek het frambose gekry by Impala vir R20 'n houertjie)

Metode:

Voorverhit die oond tot 180 grade celsius. Voer 2 kolwyntjiepannetjies (dus 24 holtes) met kolwyntjie papiertjies.

Kors: Maak die beskuitjies fyn (ek gebruik die voedselverwerker dis baie vinnig - anders rol dit in 'n plastieksakkie dan mors jy nie krummels die hele kombuis vol nie). Voeg die botter/margarien en strooisuiker by (indien enige) en mikrogolf vir so 2 minute tot gesmelt. Druk die kors vas in die onderkante van die kolwyntjiehouertjies (ek gebruik 'n eetlepel).

Vulsel:

Klits die roomkaas, room, koekmeel en strooisuiker saam (gebruik jou k-beater dat jy nie te veel lug in die mengsel klits nie). Voeg die eiers een vir een by en skraap die kante tussen elke byvoegsel. Voeg die vanielje geursel en suurroom by en meng goed. Gooi in die kolwyntjieholtes tot amper vol - ek gooi die vulsel in my glas maatbeker en gebruik dié om dit in die holtes te gooi - baie vinniger as om dit met 'n lepel te doen).

Bak vir 20 minute teen 160 grade celsius. Dit sal nog so effe dril as dit uit die oond kom - moenie dit langer bak nie dan bak dit droog. Dit lyk ook opgepof as dit uit die oond kom - dit sak mooi af en word plat as jy dit uit die oond haal en dit begin afkoel. Laat dit afkoel in die pannetjies.

Bolaag:

Meng die creme fraiche, suurlemoensap en versiersuiker (jy kan meer versiersuiker of suurlemoensap byvoeg afhangende van smaak). Skep 'n gul teelepel vol op elke kaaskoekie en versier met bessies.

Indien die swartbessies of frambose nie in seisoen is nie, kan mens altyd eetbare blommetjies of iets anders ook gebruik vir versiering.

Dit werk ongeveer R6 per porsie uit - so vir R144 kan jy vir 24 mense 'n porsie kaaskoek bedien wat baie goedkoper is as om 'n groot koek te bak wat 3 houertjies roomkaas gebruik.