Monday, 8 February 2016

PAPTERT





PAPTERT
Stywepap is ʼn baie veelsydige dis wat vir brekfis, middagete en aandete saam met enige ander kos opgedis kan word en dis altyd lekker. Dis ʼn kampkos by uitstek.
Om die smaak van stywepap verder te verbeter, of om die oorgeblewe pap van gisteraand se braaivleis weer te geniet – maak jy ʼn paptert.
Paptert word in vier fases gemaak, naamlik: die pap, die sous, die aanmekaarsit van die twee en dan die die bakproses wat in ’n oond of in ʼn driepootpot gedoen kan word. Volg instruksies en glo my, jy gaan dit geniet.
DIE PAP
Bestanddele
3 koppies mieliemeel
50g botter
2 teelepels sout
½ blikkie mieliepitte
1 liter water
Metode
Gooi die water, sout en botter in ʼn pot en bring die inhoud tot kookpunt. Gooi die mieliemeel op ʼn hopie in die middel maar moenie roer nie. Verminder die hitte, plaas die deksel op die pot en kook vir 5 minute. Roer dan goed met ʼn vurk, gooi die mieliepitte by en plaas die deksel weer terug
Kook oor ʼn lae hitte vir 40-60 minute, tot gaar.
DIE SOUS
Bestanddele
250g gekapte spek
1 ui (gekap)
2 tamaties waarvan die skil deur middel van kookwater verwyder is
handvol gekapte sampioene
½ blikkie mieliepitte
1 teelepel sout
2 teelepels suiker
2 handevol gerasperde cheddarkaas
handvol grondboontjies
Metode
Braai die spek na jou smaak en maak dan die tamatie-en-uiesmoor met sampioene in dieselfde pan. Voeg sout, suiker en mieliepitte daarby. Laat dit vir ongeveer 10-15 minute, prut. Indien jy so voel kan die sous met ʼn bietjie mielieblom verdik word.
DIE AANMEKAARSLAAN
Strooi die grondboontjies onder in ʼn oondvaste bak. Sorg dat die pap ʼn bietjie slapper as die gewone stywepap is en plaas ʼn laag bo-oor die grondboontjies (indien jy gisteraand se koue pap gebruik kan jy dit net eenvoudig in lae sny). Nou volg daar ʼn laag sous wat met cheddarkaas en spek besprinkel word en weer ʼn laag pap en so bou jy die hele gedoente totdat jou bestanddele op is.
DIE BAKPROSES
Bak vir 30-40 minute in ʼn oond by 180 grade.

No comments:

Post a Comment