Tuesday 23 February 2016

Paasfees Idees



Haasflessies met eiernessies
Benodigdhede:
■ Skoon, droë glasflessies met deksels...
■ Plastiek hasies
■ Gom (Superglue)

■ Wit spuitverf
■ Raffia
■ Lekkergoed-eiers
So maak ’n mens:
1. Verwyder die fles se deksel en plak ’n hasie daarop. Laat goed droog word.
2. Spuitverf die deksel en hasie en laat goed droog word.
3. Skep ’n nessie in die fles met die raffia. Plaas die lekkergoed daarop.
4. Skroef die deksel weer op fles en rond met ’n raffiastrik af.



Mini-bederfgeskenkies
Met ’n paar repies washi-kleeflint en leë vuurhoutjiedosies kan jy in ’n kits oulike geskenkhouers maak.
Benodigdhede
 Leë vuurhoutjiedosies
 Kunsverf in een of meer kleure
 Washi-kleeflint
■ Klein lekkers
So maak ’n mens:
1. Skuif die vuurhoutjiedosie oop en verf die deksel in die kleur van jou keuse. Laat dit droog word. Herhaal indien een laag nie genoeg is nie.
2. Versier die deksel met washi-kleeflint. Gee jou verbeelding vrye teuels. Dis pret!
3. Vul met lekkers en sit op elke gas se bord. Dit kan selfs as plekhouer dien deur die gas se naam daarop te skryf.



Paaspret vir die kleinspan
Dié skattige selfdoenprojek, ’n hasie of kuiken wat as houer vir Paaslekkers kan dien, is maklik en prettig vir die kleinspan om self te maak.
Benodigdhede:
 Karton-toiletrolle
 Wit en oranje of geel verf
 Kunsogies
 Gom
 Karton
 Gekleurde viltmateriaal vir die ore en pote
 Vere
 Watte
 Skêr
 Kokipen
Só maak ’n mens:
1. Verf ’n toiletrol wit vir die hasie en oranje of geel vir die kuiken. Laat dit droog word.
2. Teken patrone vir die hasie se ore, neus en pote op die vilt en sny dit uit. Doen dieselfde vir die kuiken se snawel en pote. Vou die vilt dubbel vir die snawel en sny ’n driehoek uit. Klein kinders sal hulp met die uitsnywerk benodig.
3. Sodra die verf droog is, plak kunsogies op die hasie en kuiken.
4. Vir die “binnekant” van die hasie se ore het ons ’n stukkie pienk uitgesny en op die wit
vilt geplak. Plak die hasie se
ore aan die binnekant van die rol vas. Plak ook die neus en stukkie watte vir die stertjie
agter. Gebruik die kokipen
om snorbaarde en ’n bek te teken.
5. Plak die kuiken se snawel vas en gebruik die vere om vlerke en ’n kuifie te maak.
6. Plak die hasie en kuiken elk aan die onderkant op ’n stuk karton vas. Wag totdat die gom droog is en sny dit netjies in die rondte uit. Nou het die rol ’n stewige basis sodat ’n mens lekkers daarin kan gooi.
7. Plak die hasie en kuiken se pote onderaan die basis vas.
8. Vul die hasie en kuiken met lekkers en steek dit weg of gebruik dit as tafeldekor.


 
 
 
’n Fraai geskenkhouer
Min dinge rond ’n mooi gedekte tafel so perfek af soos ’n oulike handgemaakte geskenk vir jou gaste. Of gee dit as geskenk vir vriende of kollegas in die Paastyd.
Benodigdhede:
 Karton-eierhouer
 Kunsverf in die kleur van jou keuse
 Klein papierdoilies
 Materiaallint
 ’n Stukkie afvaltou
 ’n Stukkie afvalmateriaal
 Gom
 Makrolletjies, Turkse lekkers, truffels of ander lekkernye
Só maak ’n mens:
1. Verf die eierhouer en laat dit droog word. Herhaal indien een laag nie genoeg is nie.
2. Vou die afvalstukkie materiaal dubbel en sny driehoekie-vlaggies (bunting) uit. Plak die vlaggies op die vou aan die tou vas om ’n mini-bunting te skep. Laat droog word.
3. Druk ’n gaatjie aan weerskante van die eierhouer se boonste deksel. Ryg die punt van die bunting deur elke gaatjie vanaf die onderkant van die boonste deksel en maak ’n knoop aan die buitekant. Sny die oortollige tou af om dit netjies te maak.
4. Plaas ’n papierdoilie in elke gaatjie van die houer. Sit nou ’n makrolletjie of lekkerny in die papierdoilie.
5. Maak die houer toe en versier die bokant van die deksel deur ’n papierdoilie daarop te plak. Rond dit af met ’n mooi bypassende materiaallint.





Haas-geskenksakkie
’n Mens hoef allermins ’n kranige naaldwerker te wees om dié fraai geskenksakkies vir die Paastafel te maak. As jy nie ’n masjien het nie, is ’n naald, garing en stukkies afvalmateriaal heeltemal voldoende.
Benodigdhede:
 Stukkies afvalmateriaal
 Stukkie kant
 Stukkie tou of lint
 Haaspatroon
 Naald en garing
 Spelde
 Skêr
 Lekkers
So maak mens:
1. Vou ’n stuk van die materiaal in die helfte en sny ’n reghoek so groot soos wat jy die sakkie wil hê daaruit. Jy het nou twee stukke reghoekige materiaal van dieselfde grootte.
2. Teken ’n hasiepatroon op ’n ander stuk materiaal en sny uit. Speld die hasie aan een van die reghoekige stukke materiaal se voorkant en stik om.
3. Sny die kant in twee stukke, elk so lank soos die bokant van die sakkie. Stik die kant aan die voorkant vas waar die sakkie se opening gaan wees.
4. Steek die twee stukke reghoekige materiaal, buitekante teen mekaar, met spelde vas.
5. Stik dit nou in die rondte toe, buiten vir die bokant waar die opening gaan wees.
6. Dop die hele sakkie om.
7. Ryg die stukkie tou of lint in die rondte deur die kant se gaatjies. Knoop albei punte van die tou of lint sodat dit nie uitrafel nie.
8. Vul die sakkie met lekkers of ’n klein geskenkie, trek die tou of lint styf en maak ’n strik

(Die Burger)