Tuesday 9 February 2016

OUTYDSE KAAPSE MELKTERT




OUTYDSE KAAPSE MELKTERT

 RESEPVULSEL
1 liter melk
200 g witsuiker
6 eiers - geskei
30 g botter
25 g mielieblom (3 el afgeskraap) (maizena)
20 g koekmeel (3 el afgeskraap)
10 ml vanielje geursel
knippie sout

METODE
1. Smeer die boom van ‘n kastrol wat jy weet nie maklik aanbrand nie met olie.
Verhit 3 koppies melk tot kookpunt, roer gereeld met ballon klitser sodat dit aanbrand voorkom.

2. Meng die res van die melk met die koekmeel en maizena.

3. Klits die eiergele en suiker tot baie lig en donsig.

4. Meng die melk mengsel met die eiergele.

5. Voeg die eiergeel mengsel by die kokende melk en roer met ballon klitser deeglik deur.
Draai hitte af na baie stadig, stoof no 2 of gas op die laagste en kleinste brander.
Laat presies 10 minute kook.

6. Klits die eierwitte tot stywe punt stadium.

7. Sodra die melktertpap gaar is, klits die botter, sout en vanielje geursel by.
Klits die pap totdat dit glad en egalig is.
Vou die eierwitte by die mengsel in met figuur 8 aksie terwyl jy die bak in die rondte draai.
Gebruik ‘n metaal lepel vir die aksie.

8. Skep dadelik in warm gebakte tertdop en bak weer vir ‘n verdere 15 - 20 minute by 170 ˚ C of totdat die tert bo op wil bruin word.

9. Laat die tert by kamer temperatuur afkoel en MOENIE in yskas plaas om af te koel nie, dit gaan krake maak!

11. Sodra afgekoel, sprinkel kaneel of klapper op.


KORS
1. Een keer se aanmaak van die Skilferkors resep op die blog. (Resep onder op die blad)

2. Deel die deeg in 2.
Rol die deeg ongeveer ‘n halwe sentimeter uit.

3. Ek gebruik ‘n erde skottel vir die bak van my melkterte.
Dus meet die deeg 5 cm groter as die omgekeerde bord op die deeg.

4. Sny die sirkel en tel versigtig met die hulp van die koekroller op en drappeer oor die tert bak.

5. Moenie die deeg in die bak in druk nie, lig die deeg se kante stukkie vir stukkie op en laat dit self in die hoeke in gly en druk dan saggies vas.
As jy net die deeg gaan vasdruk gaan die deeg uitermatig krimp tydens die blindbak proses en die deeg gaan ook nie ‘n eweredige dikte hê nie.

6. Prik die basis van die deeg met ‘n vurk en sprinkel met maizena sodat die basis bros kan bly.

7. Plaas dan bakpapier met die bone of rys binne in die tert bak en verkoel vir 30 minute.


8. Bak dan dadelik by 200 ˚ C vir 5 minute en verlaag hitte na 180 ˚ C en bak ‘n verdere 5 minute, verwyder bone en bak nog 5 minute sonder bone.

9. Verwyder tertdop uit oond en skep vulsel dadelik in en bak dan by 180 ˚ C vir 8 - 10 minute.

10. Laat buite afkoel en versier met kaneel of klapper

HOEVEELHEID: 2 groot melkterte 23 cm sirkels.

BRON: Ouma Grootjie Kittie Bezuidenhout






SKILFERKORS DEEG - LES 1. Skilferkors deeg word deur lae van botter, koekmeel en water gevorm.

2. Die doel van baie botter, om tydens die bak proses wanneer dit smelt, die lagies deeg van mekaar te skei, sodra  die water wat teenwoordig is in stoom omgesit word en die deeg lagies begin op lig.

3. Daar is vinniger weergawes van Skilferkors soos die “Britse en Amerikaanse quick puffpastry”.

4. In baie foto’s sal julle sien dat die kors altyd gesny word in patroontjies, dit het sy doel.
Sodra die kors begin hard word, maak die snytjies oop en die deeg kan nog verder uitsit en mooi rys.

5. Wanneer die deeg berei word, werk met so koud as moontlik bestanddele en koel vertrek.

6. As die deeg gerol word word dit na elke verkoeling 2 keer gerol soos volg.
Eerste rol is om die deeg oop te maak, vou mooi toe in derdes en draai dit weer 90 grade.
Rol en vou en verkoel.

7. Maak seker dat die botter nie warm word tydens hierdie proses nie, want anders klou die lagies wat jy probeer vorm aan mekaar vas.

8. Hierdie deeg word by baie hoë temperature gebak omdat stoom die deeg laat rys.

9. Ek draai my deeg 6 keer.
Dus drie keer rus in die yskas vir 30 minute om die botter te laat set, met 6 keer rol.

RESEP
500 g koekmeel
500 g botter
10 ml sout
10 ml suurlemoensap
250 ml yswater

METODE
1. Neem 30 g van die botter uit.
Vat die res van die botter en slaan dit plat en vorm dit in ‘n reghoek van ‘n halwe A4 vel.
Plaas in kleef plastiek en laat staan in die yskas om te verhard.

2. Sif die koekmeel en sout saam en maak ‘n gaatjie in die middel van die meel.

3. Voeg die water en 30 g van die botter by die koekmeel.
Met ‘n mes sny die bestanddele in mekaar in.

4. Ek kroek en gebruik vir hierdie gedeelte die voedsel verwerker.
Sodra die deeg ‘n bol word, stop dadelik.
Die gluten moenie ontwikkel word nie, anders gaan die deeg oormatig krimp as dit gebak word.
Druk aan mekaar.

5. Neem die deeg en vorm dit op ‘n stukkie kleefplastiek in ‘n reghoek.
Laat die deeg in die yskas rus vir 30 minute.

6. Haal die botter en die deeg uit en laat staan vir 10 minute om net sag te word.
Rol die deeg ongeveer ‘n halwe cm uit en plaas die botter blok bo op in die middel van die deeg.
Vou die deeg mooi oor die botter.
Moet soos geskenk pakkie lyk.

7. Draai die deeg om sodat die naat na onder lê, en rol reghoekig uit tot ‘n dikte van 1 cm.
Vou die deeg in 3 en draai 90 grade en rol weer dun uit.
Vou op en plaas in die yskas om te rus vir 30 minute.

8. Herhaal hierdie proses vir nog 2 keer.

9. Wanneer die deeg gebak word moet dit by 220 ˚ C gebak word.

10. Geskik vir soet en sout vulsels.
Vries vir 6 maande.

HOEVEELHEID: 800 g - 1 kg deeg, genoeg vir 1 groot pastei of 12 klein handpasteie.

BRON: Hantie Bezuidenhout oorspronklike resep, gemetriseerd deur Annelien Pienaar