Monday 22 February 2016

Moerkoffiepoeding




Moerkoffiepoeding
 Weg Tydskrif...

Vir 8 | Voorbereityd 20 minute plus 3 uur in die yskas

Jy benodig
• 200 g donkersjokolade (of gebruik sjokoladesmeer)
• ½ koppie room
• 100 ml moerkoffie
• 2 eetlepels suiker
• 8 eetlepels Kahlua (of gebruik ’n ander likeur soos Amaretto of Tia Maria)
• 1 pak (125 g elk) Boudoirvingerbeskuitjies
• 2 houertjies (250 g elk) mascarpone (of gebruik roomkaas)
• 4 eetlepels suiker

Só maak jy

1. Verhit ’n potjie met water op die gasstoof tot kookpunt. Sit ’n groterige emalje of metaalbak bo-op – die boom moenie aan die water raak nie.

2. Rasper die donkersjokolade in die bak en roer dit totdat die stomende water se hitte die sjokolade gesmelt het – pasop net dat dit nie kook nie! Haal die bak van die kastrol af en roer die helfte van die room daardeur.

3. Gebruik sommer die warm water in die potjie en maak lekker sterk moerkoffie. Meng 8 eetlepels van die warm koffie met die suiker en 4 eetlepels likeur. Breek van die vingerbeskuitjies in stukke, doop dit vinnig in die koffie en pak ’n enkellaag in die bodem van elke flessie of blikbeker.

4. Meng die mascarpone, die res van die room en suiker in ’n bak met die res van die likeur tot glad. Verdeel die helfte van die mengsel tussen die houertjies, en dan ook die helfte van die gesmelte sjokolade. Doop nou nog beskuitjies in die koffie, herhaal die proses en eindig dan met ’n laag beskuitjies bo-op. Sit dit vir 3 uur (maar verkieslik oornag) in die yskas.

Wenk: Pleks van individuele porsies kan die hele poeding ook in ’n ronde 20 cm-bak gemaak word.