Monday 22 February 2016

Mini-Paasbolletjie-oliebolle met sjokolade en kardemom




Mini-Paasbolletjie-oliebolle met sjokolade en kardemom
Maak 32

Bestanddele
Vir die Paasbolletjies
60 g gesoute botter
420 g koekmeel
5 ml sout
50 ml bruinsuiker
5 ml gemengde speserye
’n deeglike knypie fyngemaalde kardemom (7 peule)
7 ml gemaalde kaneel
10 g droë kitsgis
1 groot eier, geklits
200 ml warm melk
100 g witsjokoladesplinters (of sjokolade wat in blokkies gekap is)
sonneblomolie, vir diepbraai
300 ml strooisuiker, om daaroor te sif

Vir die wit kruise:
125 ml meel
125 ml water

Só maak ’n mens:
1. Maal die kardamompeule in ’n stamper en vysel en sif om enige groot stukke of doppe te verwyder.
2. Vryf die botter by die meel in en meng die sout, suiker, speserye en kardemom daarby. Voeg die gis daarby en meng.
3. Plaas die gemengde droë bestanddele in ’n elektriese klitser met ’n deeghaak. Klits die eier en warm melk saam en voeg dit geleidelik, op lae spoed, by die droë bestanddele om ’n deeg te vorm.
4. Meng totdat dit ’n sagte deeg vorm en knie dit dan vir sewe minute, op ’n medium spoed, tot glad en elasties. Indien ’n mens dit met die hand doen, knie dit vir minstens 10 minute of totdat die deeg elasties is. Oor die algemeen is dié deeg meer klewerig as normale brooddeeg – weerstaan dus die versoeking om nog meel by te voeg. Voeg halfpad deur die knieproses die sjokoladesplinters by die deeg.
5. Verdeel die deeg in 32 stukkies en rol dit in balletjies (my deeg het op sowat 25 g per stukkie uitgewerk). Plaas dit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is, bedek en laat rys totdat dit in grootte verdubbel het.
6. Meng die meel en water saam tot glad om die kruise te maak. Plaas in ’n spuitsak en versier die bolletjies daarmee.
7. Verhit die olie in ’n pot tot 165 °C. Gebruik ’n lepel met gaatjies om die oliebolle versigtig in die olie te plaas en braai vir 21/2 minute aan elke kant deur dit met die lepel om te dop. Braai vir altesame vyf tot ses minute.
8. Verwyder dit uit die olie met die gaatjieslepel en laat die meeste olie afdrup voordat dit in strooisuiker gerol word. Plaas op ’n kombuisdoek om van enige oortollige olie ontslae te raak.