Thursday 18 February 2016

Martjie se resep vir ’n outydse melktert




Martjie se resep vir ’n outydse melktert
Maak 2 middelslag-blikbordterte

Jy benodig:
VIR DIE VINNIGE SKILFERKORS
500 g botter
500 g koekmeel
teelepel (2,5 ml) kremetart
1 teelepel (5 ml) sout
1 koppie (250 ml) yswater

VIR DIE MELKTERTVULSEL
2 l melk
50 g botter
saadjies van 1 vanieljepeul
1 stuk pypkaneel
6 eiers, geskei
2 heel eiers
300 g suiker
70 g koekmeel
120 g mielieblom
sout
kaneelsuiker (.koppie strooisuiker en 2 teelepels kaneel)

Só maak jy
1. Maak die kors
Gebruik ’n elektriese menger of voedselverwerker om die botter by die meel in te sny totdat daar nog ertjiegrootte klontjies botter in die meel sigbaar is. Tel die mengsel in ’n groot mengbak oor en sprinkel die kremetart oor.
2. Los die sout in die yswater op. Maak ’n holtetjie in die middel van die meel. Skink die water bietjies-bietjies daarin en sny dit telkens met ’n slaplemmes by die meel en botter in voordat jy nog ’n bietjie water byvoeg. Hou so aan totdat al die water opgebruik is. Die deeg behoort nou mooi ferm te wees en ’n bol te kan vorm.
3. Verdeel die deeg in 2 skywe. Vou elkeen in ’n stuk kleefplastiek toe en laat dit vir sowat 20 minute in die yskas rus.
4. Haal die stukke deeg uit die yskas en rol hulle saam in ’n groot reghoek uit. Vou dan die vel deeg op homself toe deur ’n derde van elke kant af na die middel in te bring. Draai die deeg weer in kleefplastiek toe en verkoel dit vir 20 minute.
5. Plaas die reghoek nou met die oop naat na bo op jou werkoppervlak en rol dit weer in ’n groot reghoek uit voordat jy die deeg weer soos hierbo toevou. Herhaal hierdie proses 4 keer.
6. Laat die deeg vir oulaas vir 20 minute in die yskas rus voordat jy dit dun uitrol en jou 2 tertpanne daarmee uitvoer.
7. Laat die uitgevoerde tertpanne in die yskas rus tot nodig.
8. Maak die vulsel
Voorverhit die oond tot 260 °C. Verhit die melk, botter, vanieljesaadjies en pypkaneel tot net onder kookpunt.
9. Verroom die eiergele, 2 heel eiers en suiker saam tot lig en glad. Voeg die koekmeel, mielieblom en sout by die eiermengsel en klits dit goed deur.
10. Haal die pypkaneel uit die melk. Voeg ’n halwe koppie warm melk by die eiermengsel en roer dit goed deur met ’n draadklitser. Skink dié mengsel dan by die melk en bring die hitte af tot laag. Roer aanhoudend totdat die vulsel dik is sonder enige klontjies. Laat die mengsel vir ’n paar minute stadig prut en verwyder dit dan van die hitte.
11. Klits intussen die 6 eierwitte tot sagte punte vorm. Vou die eierwitte versigtig by die melktertvulsel in tot volledig gemeng maar steeds lig – daar moenie meer wit wolkies eierwit sigbaar wees nie.
12. Skink die vulsel in die uitgevoerde tertpanne en smeer die bokante mooi gelyk. Bak die terte vir 10 minute teen 260 °C, draai dan die temperatuur af tot 200 °C en bak dit vir ’n verdere 10 minute of totdat die vulsel mooi gestol is. Hou die terte goed dop – die bokant moenie te donker bak nie. (Jy kan ook foelie oor die terte sit om te keer dat dit te bruin word.)
13. Strooi die kaneelsuiker liggies oor sodra die terte uit die oond kom. Jy kan dit warm óf teen kamertemperatuur voorsit.

Melktertwenke
Maak seker die botter is yskoud wanneer jy die skilferkors maak. Laat die deeg ook goed koud word tussen rolbeurte.
Moenie die deeg rek wanneer jy die tertpanne uitvoer nie – dit laat die deeg krimp wanneer dit bak. Laat dit eerder mooi in die tertpan insink.
Sny die deeg met ’n oorhang van sowat ’n sentimeter oor die pan se rand af – sodoende bly daar steeds ’n groot genoeg “kragie” deeg rondom die tert uitsteek indien dit wel in die oond gekrimp het.
Roer die melktertvulsel aanhoudend terwyl dit kook, om klontjies te voorkom. Dit werk ook goed om eers ’n paar skeppies van die warm melk by die eiermengsel in te roer voordat jy dié by die res van die melk inmeng – dit keer dat jy met roereiers sit!
Pasop vir ’n te swaar hand met enige geursel. Die vulsel moet ’n soet, melkerige vla met ’n baie subtiele vanieljegeur wees.
Bak die melktert vir die eerste 10 minute in ’n vuurwarm oond en draai dan die hitte laer.