Monday 22 February 2016

Kaserige knoffelbrood




Kaserige knoffelbrood

Deur Aletta Lintvelt en Myburgh du Plessis
Weg Tydskrif
...
Dié knoffelbolletjies met ’n gesmelte kaasvulsel warm uit die pot is lekker saam met braaivleis en word gemaak met winkeldeeg.

Jy benodig:
• 1 kg winkeldeeg
• ¾ koppie botter
• 4 teelepels knoffel, fyngekap• 3 eetlepels origanum, gekap
• 1 hand vol vars pietersielie, gekap
• 150 g mozzarella, in blokkies gesny
• 150 g gerasperde cheddar

Só maak jy:
1. Haal die winkeldeeg uit die yskas 1 uur voordat jy die brood wil bak.

2. Smelt die botter en gebruik ’n klein bietjie om ’n platboomswartpot te smeer (’n nr. 2-pot werk goed). Indien jy dit in die oond bak, kan jy ook ’n gesmeerde ringvormpan gebruik (die brood op die foto is in so een gebak). Meng die res van die botter met die knoffel, origanum en pietersielie.

3. Knie die deeg af om die lug uit te kry. Breek ’n bolletjie deeg omtrent so groot soos ’n R5-stuk af en rol ’n mozzarellablokkie daarin toe. Seël dit goed sodat die kaas nie sal uitloop wanneer dit smelt nie.

4. Rol die bolletjies in die bottermengsel en pak dit in die pot. Hou aan totdat jy omtrent die helfte van die deeg gebruik het en die pot se bodem toegepak is.

5. Sprinkel die helfte van die cheddar en twee eetlepels van die bottermengsel oor die laag deegbolletjies. Probeer om meer van die knoffel en kruie te skep as van die botter.

6. Rol nou bolletjies met die res van die deeg en mozzarella, en pak dit in nog ’n laag bo-op die eerste een. Sprinkel die res van die kaas bo-oor. Hou enige oorblywende botter om later op die gaar brood te smeer.
'
7. Sit die deksel op die pot en laat dit vir 1 uur op ’n louwarm plek staan sodat die deeg weer kan uitrys tot dubbel die volume.

8 Krap ’n sirkel kole oop, sit ’n driehoek in die middel en sit die pot daarop neer met ’n paar kooltjies op die deksel. Bak die brood vir 30-40 minute (jy kan dit ook vir dieselfde tyd oop in ’n oond van 170 °C bak).

9 Gly ’n mes rondom die brood om dit los te kry van die pot, en laat dit vir 5 minute staan voor jy dit uitkeer. Eet die brood dadelik, terwyl die kaas nog gesmelt is.

WENK: Pleks van die knoffel en kruie kan jy ook 2 eetlepels bruinuiesoppoeier oor elke laag deegbolletjies sprinkel.