Tuesday 1 December 2015

VEERLIGTE WOLKE POEDING




VEERLIGTE WOLKE POEDING Hierdie reseppie het ek seker 30 jaar gelede vir die eerste keer gemaak. Ek het ‘n soortgelyke poeding by iemand geëet en hier is my eie weergawe van die maklike maar heerlike nagereg. Die nagereg kan warm of koud voorgesit word maar moet net ‘n uur of twee voor dit bedien word voorberei word anders trek die eierwit water.
1 pak (200g) Marie-beskuitjies
Fyn appelkooskonfyt
4 eiers, geskei
750 ml melk
50 ml witsuiker
Knypie sout
Hundreds and thousands vir versiering
METODE:
Breek die beskuitjies in stukkies. Plaas ‘n derde in ‘n groterige, hittevaste glasbak. Stip die koekies met klontjies appelkosskonfyt en herhaal die lae twee keer. Klits die eierwit tot styf. Skep lepelsvol daarvan op die beskuitjie-en-konfytlae dat dit wolkerig lyk. Dit moet punterig wees, moenie dit platsmeer nie. Maak die vla deur die melk tot kookpunt te verhit. Klits intussen die eiergele, suiker en sout baie goed saam tot lig en dik. Haal die kokende melk van die stoof af. Skep ‘n paar lepels kookmelk op die eiergeelmengsel en roer goed. Giet nou die eiermengsel by die kookmelk en plaas weer op stoof, roer tot die vla aan die lepel vasplak (dit is nog redelik dunnerig). Die vla mag nie kook nie anders skif dit. Skep lepelsvol warm vla oor die eierwit. Strooi “hundreds and thousands” oor en laat die poeding ‘n uur of twee staan. Dit lewer ongeveer 6 porsies
Bron: Patricia Pearson / Pasella Resepte.