Thursday 5 November 2015

EIER EN BEETBLARE



EIER EN BEETBLARE  
Met ʼn skakelbeampte soos Popeye wat sy spinasie sommer direk uit die blikkie eet sal alle ander blaargroentes altyd aan die agterspeen suig. 
Indien jy weer beet koop, moenie die blare weggooi nie, want selfs Popeye weet dat beetblare lekkerder en meer geurig as spinasie is. 
Bestanddele
beetblare 
uie 
sonneblomolie 
room  
sout en peper na smaak 
 
Voorstelle vir die res van die dis
roosterbrood 
spek 
geposjeerde eier 
 
Metode
Probeer om die varste beetblare te kry en spoel die grond versigtig af. Kook saam met ʼn paar uieskywe vir ongeveer 10 minute in soutwater. Dreineer en snipper die blare en uie. Plaas dit terug in die leë pot en braai oor lae hitte vir ʼn minuut of wat in ʼn klein bietjie sonneblomolie. Roer die room versigtig by. 
 
Aanmekaarslaan van die dis
Plaas ʼn paar repies spek op ʼn snytjie roosterbrood met die beetblare bo-op. Maak ʼn nessie in jou beetblare en plaas ʼn posjeerde eier in die nessie. Eet en geniet en vertel vir Popeye dat beetblare net so smaakvol en gesond soos spinasie kan wees. Of dalk nog beter.