Wednesday 21 October 2015

Wortelkoek




Wortelkoek

Dié wortelkoek het ’n suurlemoenversiersel pleks van die tradisionele roomkaasversiersel – dit sorg vir ’n lekker surigheid en is ook meer ekonomies.

Maak: 1 broodjie
Bereidingstyd:
20 minute
Baktyd:
45 minute
Oondtemperatuur:
160 °C

• 215 g (250 ml) suiker
• 2 groot eiers
• 190 ml sonneblomolie
• 375 ml gerasperde wortel
• 50 g (125 ml) gekapte okkerneute
• 70 g (90 ml) rosyntjies
• 30 ml gekapte glanskersies
• 140 g (250 ml) koekmeel
• 5 ml koeksoda
• 5 ml fyn kaneel

Versiersel
• 30 ml sagte botter
• 130 g (250 ml) versiersuiker, gesif
• suurlemoensap
• okkerneute, vir garnering

1 Klits die suiker, eiers en olie saam.

2 Druk die ekstra vloeistof uit die wortel. Roer die wortel, neute, rosyne en kersies by die suikermengsel.

3 Vou die droë bestanddele en 2 ml sout in en skep die beslag in ’n broodpan wat gesmeer en gevoer is. Bak dit vir 45 minute in die verhitte oond, of tot ’n toetspen skoon uitkom. Haal dit uit die oond en laat dit eenkant afkoel.

4 Versiersel Smelt die botter en roer dit by die versiersuiker. Voeg genoeg suurlemoensap by om ’n smeerbare versiersel te vorm. Smeer dit oor die koek en versier dit dan met okkerneute.