Monday 19 October 2015

VANIELJE-GRANOLA MET BESSIESOUS




VANIELJE-GRANOLA MET BESSIESOUS

BESTANDDELE
Vir die granola
5 koppies hawermout (die een wat hulle ‘rolled oats’ noem, nie gewone kits hawermout nie – loer in die gesondheidsafdeling van jou supermark)
1 koppie sonneblomsade
¼ koppie sesam- of pampoensade
1 koppie pekanneute, rofgekap
½ koppie amandels, rofgekap
½ koppie haselneute, rofgekap
½t sout
½ koppie gewone kookolie
1½t vanielje-ekstrak
8 eetlepels goue stroop (of heuning, of ’n mengsel van die twee)
1½ koppie droeë rooibosbessies (‘cranberries’)
Vir die bessiesous
Gevriesde somerbessie-mengsel (Woolies het, of probeer Hillcrest s’n)
Bessiekonfyt (framboos, aarbei of kersie)
Suurlemoen- of lemmetjiesap
METODE
1 Voorverhit jou oond tot 155C.
2 Voeg die neute en sout by die hawermout. Voeg die olie, vanielje en stroop by en meng goed tot alles eweredig bedek is. (Ek vind dis makliker as ek die stroop by die olie voeg en dit eers in die mikro verhit vir 30 sekondes.)
3 Versprei mengsel eweredig op twee groot bakplate en bak vir 40-50 minute tot goudkleurig – roer halfpad deur. Verwyder en laat afkoel.(Om groter stukke granola te kry, druk die mengsel plat met die agterkant van ’n lepel terwyl dit nog warm is en laat dit so afkoel.)
4 Voeg die rooibosbessies by as die mengsel eers koel is en stoor in lugdigte houers vir tot ’n maand.
5 Om kits bessiesous vir een te maak, verhit een eetlepel bessiekonfyt in die mikrogolfoond vir 10-20 sekondes tot gesmelt. Voeg 2-3 eetlepels gevriesde bessies by en roer. Die hitte van die konfyt sal die bessies blitsvinnig laat ontdooi. Ek hou van ’n suurigheid om die soet te balanseer, so ek sit ’n drukkie suurlemoensap of lemmetjiesap ook by. Bedien saam met die granola en natuurlike joghurt.
 
NOG GRANOLA-IDEES
1) Vervang van die neute met rou grondbone en vervang die bessies met rosyne.
2) Gebruik pistasieneute en vervang die bessies met gekapte droeë vye. Jy kan selfs ’n teelepel of wat dukkah bysit vir ’n Midde-Oosterse geurtjie.
3) Vervang die bessies met droeë piesangskyfies en droeë klapper.