Thursday 29 October 2015

Letter-drupmatjies




Letter-drupmatjies

Jy benodig
• Supawood-drupmatjies
• prente wat jy wil gebruik
• wit handwerk- of PVA-verf
• modge podge
• handwerkkwas
• dun velle kurk
• hars
• keelstokkies
• kontakgom
• handwerkmes en snymat

So maak jy
1
Ons het ’n stel onversierde Supawood-drupmatjies van 10 x 10 cm gekoop, maar jy kan ook jou eie laat saag. Maak die hoeke rond en verf die voorkant en rande wit.

2 Sny al jou prente sodat dit reg rondom omtrent 5 mm breër as die drupmatjies is.

3 Verf ’n laag modge podge oor die drupmatjie en posisioneer die prent daarop. Vryf die prent vining vas voor jy dit eenkant laat droog word en nog ’n laag modge podge bo-oor verf. Sny die rande met jou handwerkmes netjies en seël dit met nog ’n laag modge podge wanneer dit droog is.

4 Wanneer al die drupmatjies gereed is, kan jy die harslagie aanbring. Sit die drupmatjies op ’n drupvel of swartsak wat jy ná die ty kan weggooi en meng die hars met ’n keelstokkie in ’n weggooibare houer (soos ’n papierkoppie). WENK Ons het Pac-Chem se Pacote 600-hars en HY 2963-verharder gebruik, maar jy kan ook Pratley se Kraftex Pratliglo gebruik.

5 Giet bietjies-bietjies hars in die middle van die drupmatjie uit en gebruik ’n keelstokkie om dit op die rande te versprei. Wees versigtig dat dit nie oor die rand loop nie – giet eerder te min as te veel vir die eerste laag. Laat die hars oornag hard word. Giet ’n tweede laag en laat di took goed verhard. WENK As die hars klein lugborrels op die oppervlak vorm nadat jy dit gegiet het, kan jy deur ’n strooitjie liggies daaroor blaas om van die borrels ontslae te raak.

6 Wanneer die hars hard is, kan jy ’n kurklagie aan die onderkant van die drupmatjies aanbring. Sny die kurk net groter as die drupmatjie en wend dit met kontakgom aan volgens die vervaardiger se aanwysings. Sny die rande met jou handwerkmes netjies. Jy kan dit ook liggies skuur indien nodig. WENK Laat die hars ’n hele paar dae lank verhard voor jy die drupmatjies gebruik.