Thursday 22 October 2015

Versiering idees met Rose




Maak ’n lentekrans van sagpienk en heldergeel rose, met bloeisels en bergbruidjies tussenin, op ’n sirkel van bloemisteskuim. Hang dié gesellige krans aan jou voordeur en sit dit die volgende dag op ’n koekstaander om die etenstafel op te vrolik.


Pak ’n glasbotteltjie vol vars, geurige tuinroosblare en vul dit met heuning. Voeg ’n skeut rooswater by en laat staan dit vir ’n paar dae. Draai af en toe om. Sit die heuning voor met ’n stapel pannekoek, bessies en vars roosblare.




Span ’n roosbak-rangskikking en mooi glasbord in as koekstaander en maak ’n vertoonstuk vir teetyd.


 
 
Druk rose saam met ander eetbare blommetjies en mentblare in ysbakkies en vul met water. Gebruik die ysblokkies om ’n ysbad vir vonkelwyn of somerdrankies op te vrolik.
 


Speletjie aan die wand …
Maak papierrosies en gee lewe aan ’n eenvoudige spieël. Sny eenvoudig groot sirkels uit mooi papier, en sny elkeen in ’n spiraal na die middel. Rol die repe van die punt af op in ’n stywe rolletjie. Knyp die een punt vas en laat los die ander punt sodat die binneste krulle verslap en ’n roos vorm. Lym vas.




Teekoppies en glase vol vrolike, vars rose gee aan dié sitkamer ’n gevoel van weelderige oordaad.




Gebruik breë lint of stroke lap met roospatrone om ’n interessante tafeldoek of loper te skep.