Thursday 17 September 2015

Suurlemoen-en-vanieljekonfyt




Suurlemoen-en-vanieljekonfyt
Dis baie belangrik dat die suurlemoen sag kook voor die suiker bygevoeg word, want jy wil nie harde sitrus in jou konfyt hê nie.
Genoeg vir: 4−5 klein flesse met ’n 250 ml-inhoudsmaat...
Bereidingstyd: 15 minute
Gaarmaaktyd: 2 uur

Bestanddele:
• 8 middelslag-suurlemoene met ’n dun skil
• 1 vanieljepeul
• 1 kg strooisuiker
1 Skrop die suurlemoene goed en droog dit af; sny dit dan met skil en al in dun skyfies, en die skyfies weer in kwarte. Sit dit in ’n groot kastrol met 1,5 liter water en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut die vrugte oop vir sowat 1 uur of tot die
suurlemoenskil sag is en die vloeistof met minstens ’n derde ingedamp het.
2 Sny die vanieljepeul in die lengte oop en skraap die saadjies uit. Voeg die peul
en saadjies saam met die suiker by die suurlemoene en roer tot opgelos. Bring tot
kookpunt en laat vinnig prut vir 30 minute of tot die konfyt rimpel wanneer dit op ’n yskoue piering geskep word. Skep enige skuim van die konfyt af en roer gereeld om te keer dat die konfyt aanbrand.
3 Verwyder die kastrol van die hitte, skep die laaste bietjie skuim van die konfyt af en haal die vanieljepeul uit. Giet die konfyt in gesteriliseerde flessies en seël dit warm. Geniet dit op brioche met ’n lepel mascarpone daarby.