Friday 25 September 2015

Piesangroomtert




Piesangroomtert

 ’n Tert gevul met romerige karamel is perfek om enige maaltyd mee af te sluit....

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min.
Verkoel: 3 uur
Bak: 20 min.

KORS
310 ml (1¼ k) meel
30 ml (2 e) suiker
2 ml (½ t) sout
125 ml (½ k) koue botter, in blokkies gesny
80 ml (⅓ k) yswater
VULSEL
250 (1 k) room, geklits
385 g blik Caramel Treat, gemeng tot glad
1 gelatienvel, geweek
2 piesangs, in skywe gesny
BOLAAG
250 ml (1 k) room
45 ml (3 e) versiersuiker
2 ml (½ t) vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n 19 cm-tertpan.

KORS Meng die meel, suiker en sout in ’n voedselverwerker. Voeg die koue botter by en pols tot dit soos growwe krummels lyk. Gooi in ’n bak. Sprinkel 60 ml (¼ k) yswater in, roer en druk die deeg tot dit bymekaarkom. Indien nodig, voeg nog ’n bietjie yswater by. Keer die deeg op kleefplastiek uit en verkoel 30 min.
Rol die deeg in ’n sirkel uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Rol die deeg lossies om ’n koekroller en rol dit versigtig in die voorbereide pan oop sodat die oortollige deeg oor die rand hang. Druk die deeg sagkens in die pan in en plooi of knyp die rande. Bedek en sit vir 30 min. in die vrieskas.
Voer die kors met ’n vel bakpapier uit, hou dit met bone of rys in posisie en blindbak 10 min. Haal die bakpapier en bone of rys uit en bak nog sowat 10 min. tot goudbruin. Laat dit heeltemal afkoel.
VULSEL Vou die room in ’n groot bak by die karamel in tot lig en donsig. Druk die vloeistof uit die geweekte gelatien, sit die vel in ’n hittebestande bak en roer oor ’n pot pruttende water tot die gelatien oplos.
Vou die gesmelte gelatien by die roommengsel in. Skep ’n laag van die roommengsel in die kors en dan ’n laag van gesnyde piesang. Herhaal en eindig met ’n roomlaag. Verkoel 2 uur of oornag.
BOLAAG Klits die room, versiersuiker en vanieljegeursel met ’n handklitser saam tot styf. Smeer of spuit die geklitste room oor die verkoelde tert.