Monday 28 September 2015

Ouderwetse lamspastei




Ouderwetse lamspastei ~ Huiskok

..... "As jy soveel liefde in jou pasteikors insit, moet daar onder ook iets spesiaal wees. Ek het hierdie resep in ‘n ou bêreboekie gekry van my ma gekry, met tradisionele resepte wat in 1949 uitgegee is deur die Shell-maatskappy."

Bestanddele...
 4 pond (1.8 kg) lamsvleis (rugstring; of meng lamsvleis en bees)
 2 wit uie, in ringe gesny
 1 blaartjie foelie (dis die dop van neutmuskaat)
 2 onse (30 g/4 E) botter
 Sap van 1 suurlemoen
 1 glas witwyn
 1 E sago
 2 hardgekookte eiers
 1 rou eier (geskei)
‘n Paar skyfies ham
‘n Bietjie wonderpeper
 Sout en peper na smaak

Metode:
 Sny die vleis in netjiese stukkies, smoor die uie in die botter, voeg nou al die bestanddele by, behalwe die eiers, sago en suurlemoensap. Stowe nou die vleis tot heerlik sag. Voeg nou die sago en goeie klont botter by: roer tot die sago gaar is.
Klits geel van eier goed op, klits bietjie water by en dan die suurlemoensap en voeg by die vleis. Gooi nou die mengsel in pasteiskottel. Sny de hardgekookte eiers in skyfies en sit op die mengsel.
Gebruik die skilferkors vir die kors van die pastei en smeer oor met wit van eier .
Let wel: 1. Die resep kan ook vir hoenderpastei gebruik word. Volgens die resepteboeke kan hoender en lam ook saamgebruik word.

Sodawaterdeeg

‘n Erfenis lamspastei verdien ‘n goeie bo-kors. Hierdie sodawater/brandewyn-kors van Carolie de Koster maak ‘n heerlike ligte skilferkorsdeeg, ewe lekker vir wildspastei, bief- en niertjiepastei of lam.

Genoeg vir 2 middelslag pasteie/terte of ongeveer 24 x 40 mm worsrolletjies.

Bestanddele:
 250 g / 280 ml yskoue botter (of margarien, maar altyd beter met botter)
 280 g / 500 ml koekmeelblom
 2 ml kremetart
 2 ml sout
 20 ml brandewyn
 Omtrent 170 ml koue sodawater

Metode:
 Rasper botter of margarien op growwe rasper en plaas in mengbak. Voeg meel, kremetart en sout by en meng met ‘n vurk tot die smeerdeeltjies eweredig in die meel versprei is.
Meng die brandewyn met 125 ml sodawater en voeg by die meel-bottermengsel en meng met vurk tot deeg vorm. Voeg geleidelik nog sodawater by tot die deeg net lekker ferm is. (die kleur en tekstuur is op hierdie stadium nog onegalig).
Bestrooi die werksoppervlakte liggies met meel. Rol die deeg met ‘n meelbestrooide koekroller uit in ‘n langwerpige vorm van 20 mm dik. Vou die deeg in drie lae, draai dit 90° en rol uit en vou weer. Plaas 20 minute in die yskas.
Herhaal die laaste stap twee keer of totdat die deeg 6 keer uitgerol en gevou is, en twee keer in die yskas geplaas is. Laat dit minstens 10 minute of oornag in die yskas rus en dan is dit reg vir gebruik.
Groot bonus: Vroeg-oggend het Tannie Poppie Coetzer, die land se gunsteling ouma, hierdie resep vir haar pasteikors deurgestuur :

Tannie Poppie se Ouma se pasteideeg:

Bestanddele:
 4 koppies koekmeel
 500g botter (nie margarine)
 1 koppie kookwater
 Knippie sout

 Metode:
 Sif meel in mengbak, smelt botter in kookwater tot heeltemal gesmelt. Gooi botter-water by meel, voeg ‘n knippie sout by meng liggies met slaplemmes. Maak ‘ n bal, draai toe in kleefplastiek/ gladwrap, sit in yskas oornag. Rol volgende oggend uit – nie te dun nie. Maak pasteie en bak. Die deeg kan gebruik word vir melktertkors, soutterte, vleispasteie, enige iets