Wednesday 16 September 2015

Maalvleis-en-uiepastei met roomkaaskors




Maalvleis-en-uiepastei met roomkaaskors

Resep Bestanddele

600 g beesmaalvleis...
30 ml olyfolie
3 groot rooi-uie
8 takkies vars tiemie
225 g koekmeel, plus ekstra om mee te bestrooi
1 opgehoopte t Engelse mosterd
1 e tamatiepuree
2 e balsamiese of rooiwynasyn
1 blokkie beesvleisaftreksel
650 ml kookwater
100 g ongesoute botter
1 groot knippie cayennepeper
100 g roomkaas
1 groot eier

Resep Aanwysings

1. Plaas ’n groot pan oor mediumhoë hitte en plaas die maalvleis en olie daarin. Braai vir sowat 15 minute of totdat al die vloeistof verdamp het. Druk dit tussendeur met ’n houtlepel fyn.

2. Skil en kap die uie rofweg en plaas dit in die pan. Voeg die afgestroopte tiemieblare by en braai vir 10 minute of totdat die uie sag is en begin verbruin.

3. Roer 1 opgehoopte eetlepel meel by, gevolg deur die mosterd, tamatiepuree en asyn. Krummel die aftrekselblokkie oor en voeg die kookwater by. Laat vir 30 minute prut, of tot verdik. Roer af en toe. Geur na smaak.

4. Terwyl die pasteivulsel prut, plaas 200 g meel, die botter, cayennepeper en roomkaas in ’n voedselverwerker en pols totdat dit ’n deeg vorm.

5. Keer dit op ’n meelbestrooide werkoppervlak uit en druk dit saam. Moet die deeg nie oorwerk nie, anders gaan die kors taai pleks van bros wees. Draai die deeg in kleefplastiek toe en laat dit in die yskas rus totdat jy dit nodig het.

6. Voorverhit die oond tot 180 °C. Wanneer die vulsel gereed is, keer dit in ’n 25 cm-pasteibak uit.

7. Rol die deeg op ’n meelbestrooide werkoppervlak uit totdat dit effens groter as die pasteibak is. Klits die eier en verf die rande van die bak daarmee. Rol die deeg om ’n koekroller en rol dit oor die vulsel af. Sny die oortollige deeg af en knyp dit vas om dit te seël. (Gebruik enige orige deeg om die pastei bo-op te versier as jy wil.)

8. Verf die deeg met die eier en bak op die middelste oondrak vir 30 minute (45 minute as jy die pastei koud in die oond gesit het) of tot goudkleurig bo-op.