Wednesday 16 September 2015

Avokado-en-salmrolletjies




Avokado-en-salmrolletjies 

Hierdie resep is die perfekte oplossing as die mense wil peusel en jou tyd min is.
...
Maak: 22 rolletjies
Bereidingstyd: 20-30 minute
Gaarmaaktyd: 25 minute

• 250 g vars salm of forel, in blokkies gesny
• 2 avokadopere, in blokkies gesny
• suurlemoensap na smaak
• 6 grasuie, net die onderste wit gedeeltes fyn gekap
• sout en vars gemaalde swartpeper
• 10 velle groenterolletjiedeeg (“springroll pastry”)
• mielieblom
• olie vir diepvetbraai
• soet rissiesous

1 Meng die salm, avokadopeer en grasuie baie versigtig saam en geur dit met suurlemoensap, sout en peper.
2 Meng ’n bietjie mielieblom in ’n bakkie met water om ’n pasta te vorm (dis die “gom” waarmee jy die deeg gaan toeplak).
3 Halveer die deegvelle en hou dit toe onder ’n klam doek om te keer dat dit uitdroog. Haal een velletjie uit en sit dit met die smal kant na jou toe op ’n werkoppervlak. Verf die rande liggies met die mielieblommengsel. Skep ’n lepel vulsel op die kort kant van die strook die naaste aan jou. Vou dit toe met die kort stukkie, vou dan die kante netjies in en rol dit op om ’n sigaar te vorm. Herhaal die proses met al die velle deeg.
4 Verhit die olie en diepvetbraai die rolletjies in sarsies tot mooi goudbruin. Dreineer dit op kombuispapier en bedien dit warm met ’n soet rissiedoopsous.