Thursday 13 August 2015

Ma Drieka se onfeilbare skilferkors

 
Ma Drieka se onfeilbare skilferkors
Theresa De Vries het haar vertroue in haar ma, Drieka Burnett van Vredendal (ook ’n warm plek), se onfeilbare skilferkors gestel. Die resep verdien werklik die reputasie as onfeilbaar, want dit het Theresa en haar spanmaat, Ida Klopper, se teetafel baie goed gedien. Theresa sê solank jy vinnig werk en sorg dat die botter yskoud, liefs bevrore is, is die deeg onfeilbaar, nes ma Drieka belowe het. Die skilferkorsdeeg kan vir melktert, konfyttertjies en selfs hoenderpastei gebruik word.

Lewer sowat 600 g deegBereiding: 45-60 minute
Staantyd: oornag500 g koekmeel5 ml (1 t) fyn sout2 eiergele300 ml yswater20 ml (4 t) suurlemoensap of brandewyn500 g botter, in 3 dele gedeel en gevries
  1. Meng die meel en sout.
  2. Meng die nat bestanddele en maak die deeg tot ’n elastiese deeg aan.
  3. Brei/knie tot glad – ongeveer 5 minute.
  4. Gooi 100 keer op die werkblad.
  5. Rol die deeg in ’n vierkant van 35 x 35 cm en rasper ’n derde van die botter oor die deeg.
  6. Vou die deeg na die middel, sye bo-oor en koppe oormekaar (soos laken opvou).
  7. Rol weer uit en gaan so voort tot die orige twee derdes botter ook gebruik is.
  8. Laat staan verkieslik oornag in die yskas en rol uit om te bak.
  9. Bak teen 230 °C.
Carmen sê: Hou alles koud, selfs die gereedskap, terwyl jy die deeg maak
Skilferkors het ’n fyn, skilferige tekstuur; dis nie bros en krummelrig soos broskors nie en vereis sommer baie vernuf.
Nadat die water bygevoeg is, word die deeg geknie om dit elasties en sterk genoeg te kry sodat dit die inrol van die botter kan verduur en in dun lagies (met die botter tussen-in) kan verdeel. Vir rys is die skilferkors afhanklik van die bewerking, die insluit van koue lug en die baie warm oond waarin dit gebak word.