Friday 17 July 2015

Om kruie in die winter te kweek, is eintlik doodmaklik




Om kruie in die winter te kweek, is eintlik doodmaklik.
Heelwat van die gewildste kruie kan die winter oorleef, veral die geharde soorte soos tiemie, origanum, pietersielie, roosmaryn en salie.
Hulle moet egter minstens vier uur per dag sonlig kry en nie in die trek van 'n koue wind wees nie. Moet hulle ook nie te veel water gee nie. Gooi net nat as die grond droog is. Hier is 'n paar van die kruie wat jy met sukses in jou wintertuin kan kweek.

Tiemie
Aard op 'n sonnige plek in grond wat goed dreineer. Dit moet teen koue wind en baie nat, gure weer beskerm word.
Eet dit
Tiemieblare het 'n ligte speserygeur en kan vars of gedroog gebruik word vir vetterige vleis, vis, souse en bredies.
Dis gesond
Tiemie het glo teenverouderingseienskappe en kan help teen 'n swak geheue en slegte bloedsomloop. Dit bevorder spysvertering en breek vetterige kosse af. Gooi 'n paar druppels vlugtige olie in jou badwater om rumatiekpyne te verlig.

Salie
Aard in grond wat goed dreineer en het baie sonlig nodig.
Eet dit
Die blare word tradisioneel gebruik vir vetterige vleis, soos eend, gans en vark, maar dis ook geskik vir 'n bolaag of vulsel vir eend, hoender of kalkoen. Dit smaak heerlik saam met kaas, lewer en uie en is ook gewild in Italiaanse geregte. Salie word dikwels in wors gebruik danksy die preserverende eienskappe daarvan en is ook heerlik in kruiejellies, -olies of -asyne.
Dis gesond
Salietee is 'n uitstekende middel teen verkoues. Meng dit gerus met 'n bietjie asyn en gebruik dit as gorrelmiddel teen keelseer, laringitis en mangelontsteking. Tee: Gooi 15 ml vars blare in 'n koppie kookwater en laat dit vir 15 minute trek. Gooi deur 'n sif en gorrel drie keer per dag.

Pietersielie
Floreer in grond wat goed dreineer en moet baie son kry. Hou die grond vogtig as jy dit in 'n pot groei. Platblaarpietersielie (die Italiaanse soort) word soms bo gewone pietersielie verkies omdat dit 'n sterker geur het.
Eet dit
Die blare kan gedroog of gevries word en word gebruik in souse, slaaisouse of as garnering. As jy 'n sterk pietersieliegeur wil hê, voeg die pietersielie kort voor opdiening by.
Dis gesond
Gee jou immuniteitstelsel 'n goeie hupstoot deur 10 ml fyngekapte pietersielieblare per dag te eet - sprinkel dit sommer in 'n slaai. 'n Gereelde dosis pietersielie kan ook urinêre infeksies voorkom en dis ook 'n bekende asemverfrisser, veral vir knoffelliefhebbers.

Origanum
Groei goed in baie son en grond wat goed dreineer.
Eet dit
Origanum is een van die min kruie wat die meeste van hul geur behou wanneer dit gedroog word. Dit smaak heerlik in vleis- en tamatiegeregte en saam met groente. Ideaal vir resepte met 'n melkbasis.
Dis gesond
Dis een van die kruie met die hoogste antiseptiese eienskappe. Gebruik dit teen hoes, verkoues en griep deur tee daarvan te maak en drie tot vier keer per dag daarmee te gorrel. Gorrelmiddel: Giet 500 ml kookwater oor 10 ml origanum, bedek dit en laat dit vir vyf tot 10 minute staan. Verhit dit weer en gorrel drie tot vier keer per dag daarmee wanneer nodig.
Jy kan origanumtee ook drink as jy moeg, geïrriteerd en gespanne is of as jy aan slapeloosheid ly. Tee: Laat 5 ml origanum vir sowat 15 minute in 'n koppie water trek. Giet dit deur 'n sif en drink.

Roosmaryn
Aard in 'n beskutte deel in son of halfskaduwee.
Eet dit
Roosmaryn is baie gewild. Dit smaak heerlik - vars of droog - saam met vleis (veral lamsvleis), gebakte vis, in bredies, tamatiesous, rys, eiergeregte en asyn. Moenie te veel gebruik nie, want dit het 'n baie sterk geur. Vee roosmaryntakkies oor jou braairooster om die kos 'n wonderlike geur te gee.
Dis gesond
Drink klein hoeveelhede roosmaryntee om opgeblaasdheid te verlig en goeie spysvertering te bevorder. Tee: Sit 'n teelepel gekapte blare in kookwater en laat dit vir vyf minute trek.

Die lourierboom
Soek volson en aard in grond wat goed dreineer maar voghoudend is. Hou dit uit die trek van koue lug en bedek bome jonger as twee jaar in die winter met 'n gaasdoek.
Eet dit
Die vars blare het 'n sterker geur as gedroogdes en smaak heerlik in sop, bredies, rysgeregte, bobotie en saam met gestoomde vis (byvoorbeeld salm). Gooi 'n paar blare in jou braaivleiskole vir 'n lekker aroma en sit vars blare in jou ryshouers om die rys 'n lekker geur te gee.
Dis gesond
Dit help vir swak spysvertering en kan in badwater gegooi word om seer ledemate te dokter.

Koljander - ook genoem dhania of Chinese pietersielie
Word soms met platblaarpietersielie verwar. Dit verkies heelwat son, met ligte, ryk grond en genoeg water.
Eet dit
Dit word gewoonlik in garam masala ('n mengsel van speserye), roerbraai- en kerriegeregte gebruik. Die gemaalde saad is ook geskik vir tamatieblatjang, ratatouille en soetgebak soos appeltert, beskuit en marmelade.
Dis gesond
Dit wakker jou spysvertering aan en verfris jou asem nadat jy knoffel geëet het. Sommige kruiekenners meen koljander help om lae bloedsuiker te voorkom en hoë cholesterol te verlaag.
(Idees)