Thursday 30 July 2015

Maak jou eie terrarium…binne ‘n uur





Maak jou eie terrarium…binne ‘n uur 


Jy kan maklik ’n glastuintjie wat die minimum onderhoud vra, van enige helder glas- of plastiekhouer maak. Skep ’n oulike klein oase wat die kind in jou sal wakker maak én as treffende fokuspunt op ’n tafel kan dien. Volg die landskapargitek Matt Allison se stappe en maak dit self!
 
Wat jy nodig het
• glashouer
• potgrond
• klippies

• geaktiveerde houtskool (te kry by troeteldierwinkels)
• plante – Matt het ’n aluminiumplant, ’n polkakolplant, hen-en-kuikens en ’n varing gekies
• ’n paar eetstokkies
Wenk Dit werk dikwels goedkoper uit om ’n gemengde bak huisplante aan te skaf as om hulle een-een te koop.
 
Kies die plante
Tropiese en subtropiese huisplante wat van vogtigheid hou, is ideaal vir terrariums. Laaggroeiende plante werk beter, maar as jy wel hoër plante kies, moet jy nou en dan die punte afknyp.
Probeer usambaraviooltjies (Saintpauliaspp.)
• baba-se-trane (Soleirolia soleirolii)
• die mosaïekplant (Fittonia verschaffeltii var. argyroneura ‘Minima’) • Peperomia-cv.
• sitkamerpalms (Chamaedorea elegans)
• Pilea-spp. • Syngoniums • Begonias
• krotons • Dracaena • Hypoestes
• klein varings.
Goeie grondbedekkers: baba-se-trane
• mossoorte soos wolfsklou.
 

Stap: 1

Plaas die klippies onderin die houer en strooi houtskool daaroor. Die houtskool help om enige walms van verrottende
materiaal te absorbeer, wat noodsaaklik is as jy die houer gaan toemaak.


Stap: 2

Haal jou plante uit hul bakkies, woel die grond versigtig van die wortelbolle af los en plaas die grond in die houer sonder om dit vas te druk – dit moet lig en los wees.


Stap: 3

Draai die wortels ligweg in ’n bolvorm sodat dit makliker is om in die potgrond te plaas.


Stap: 4

Laat sak die plantjies versigtig met jou eetstokkies in die houer; gebruik dan een stokkie en druk die los grond om die
ontblote wortels.


Stap: 5

Wanneer al die plante op hul plek is, kan jy nog klippies, takkies en mos byvoeg en jou tuintjie na hartelus vorm gee.
Vee die glas aan die binnekant skoon met kombuispapier wat om die punt van ’n eetstokkie gedraai is.

LET WEL:

Indien jy die houer wil toemaak, moet jy eers water gee; seël dit dan en plaas dit op ’n koel plek waar dit genoeg lig
sal kry. Gee dit 2 weke kans om “gehard” te word; daarna kan jy dit na enige posisie skuif. Nou hoef jy dit nie weer water te gee nie, aangesien die terrarium ’n geslote ekostelsel uitmaak.

(Tuis Tydskrif)