Thursday 30 July 2015

Kaas-en-spek-skons




Kaas-en-spek-skons

Maak: 8-10
Bereidingstyd:
10 minute
Baktyd:
12-15 minute
Oondtemperatuur:
240 °C

• 240 g (440 ml) koekmeel
• 20 ml bakpoeier
• 25 ml koue botter
• 50 g gerasperde cheddar
• 100 ml fyngekapte gebraaide streepspek
• 175 ml koue melk

1 Sif die meel, bakpoeier en 3 ml sout saam in ’n bak. Vryf die botter met jou vingerpunte in of pols die bestanddele in ’n voedselverwerker. Roer die kaas en spek deur.

2 Gebruik ’n stomp mes om die melk in te meng tot die bestanddele aan mekaar begin kleef. Moenie dit te veel meng nie.

3 Keer die deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en druk dit effens platter tot dit omtrent 3 cm dik is. Gebruik ’n klein skondrukker om vorms daaruit te druk, of sny dit met ’n mes in driehoeke.

4 Pak die skons op ’n gesmeerde bakplaat en bak dit vir sowat 12-15 minute in die verhitte oond tot dit goudbruin is. Sit dit warm voor met botter en ekstra kaas.

Hou dit dop
• Moenie die deeg te veel meng nie, anders sal die skons taai wees.
• Druk enige afvalstukkies deeg baie liggies saam om nog skons uit te druk.
• Pak die ongebakte skons naby aan mekaar op die bakplaat sodat dit beter kan rys.
• Verf die skons met melk om ’n mooi goue kleur te verseker.