Thursday 16 July 2015

Geroosterde tamatiesop met ’n héérlike kaasbrood met tiemie en swartpeper



Geroosterde tamatiesop PLUS ons resep vir ’n héérlike kaasbrood met tiemie en swartpeper


Geroosterde tamatiesop
Genoeg vir: 6-8
Bereidingstyd: 30 minute
Gaarmaaktyd: 20 minute
Oondtemperatuur: 200 °C
• 800 g kersie- of baba-rosatamaties
• 4 groot ryp tamaties, rofweg gekap

• olyfolie
• 3 preie, gesny
• 4 knoffelhuisies, fyngedruk
• 30 ml balsemiekasyn
• 5 ml droë basilie
• 2 ml droë origanum
• 500 ml voorbereide groente- of hoenderaftreksel
• 125 ml suurroom
1 Sprei die tamaties uit op ’n bakplaat. Drup olyfolie oor en geur dit met sout en varsgemaalde swartpeper. Rooster dit vir 15-20 minute in die verhitte oond tot die rand van die skilletjies begin verbruin.
2 Verhit nog ’n bietjie olyfolie in ’n kastrol en soteer die prei vir ’n paar minute totdat dit net begin sag word. Voeg die knoffel by en roerbraai dit vir nog twee minute. Voeg die balsemiekasyn by.
3 Haal die tamaties uit die oond en verpulp dit in ’n voedselverwerker tot dit glad is.
4 Gooi die verpulpte tamaties by die prei in die kastrol. Voeg die kruie by en laat dit vir 15 minute sonder die deksel kook.
5 Roer die helfte van die suurroom in en geur dit na smaak. Voeg ’n bietjie suiker by, indien verkies. Sit die sop in bakkies voor met ’n skeppie van die orige suurroom en varsgebakte kaasbrood.


Kaasbrood met tiemie en swart peper
Maak: 2 brode
Bereidingstyd: 30 minute, plus rystyd
Baktyd: 20 minute
Oondtemperatuur: 220 °C
• 500 g witbroodmeel
• 10 g kitsgis
• olyfolie
• 200 ml gerasperde beleë cheddar
• ’n paar takkies vars tiemie
• soutvlokkies
• 2 knoffelhuisies, gesny
1 Sif die meel en 10 ml sout in ’n groot mengbak. Roer die kitsgis by. Meng 280 ml louwarm water met 45 ml olyfolie. Maak ’n holte in die droë bestanddele. Voeg die vloeistof by en roer dit deur tot dit ’n deeg vorm. Knie die deeg vir 10 minute, of gebruik ’n voedselverwerker met ’n deeghaak.
2 Sit die deeg in ’n bak wat liggies met olie gesmeer is sodra dit sag en elasties geknie is. Maak die bak met kleefplastiek en ’n klam teedoek toe. Laat dit vir omtrent twee uur op ’n warm plek rys, of tot dit in volume verdubbel het.
3 Knie die deeg af en verdeel dit in twee. Rol elke helfte uit op ’n skoon werkoppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Sprinkel ’n bietjie cheddar, grofgemaalde swartpeper en ’n paar tiemieblare oor die deeg. Vou dit dubbel en dan weer dubbel voor jy dit weer uitrol en die proses herhaal. Rol dit dan vir oulaas uit en pak dit op gesmeerde bakplate. Laat die brode dan weer vir omtrent een uur eenkant rys.
4Sprinkel die orige kaas, nog swartpeper, ’n paar takkies tiemie en die knoffelskyfies en sout- vlokkies oor. Bedruip dit met ’n ruim hoeveelheid olyfolie en sit dit in die verhitte oond. Spuit ’n bietjie water in die oond – gebruik ’n spuitbottel wat met skoon water gevul is. Bak die brode vir 15-20 minute tot dit goudbruin is. Sit dan die oond af, maak die oonddeur effens oop en los die brood vir nog 10 minute in die oond voordat jy dit uithaal. Sny dit in stukke en sit dit warm voor saam met die bakkies tamatiesop.