Tuesday 9 June 2015

Spoggerige troukoeke: Wat is in die mode?

Spoggerige troukoeke: Wat is in die mode?







In die laaste episode van Koekedoor moes ons twee deelnemers spoggerige troukoeke bak. Soos met alles wat met troues verband hou, kom en gaan modes en neigings. Beoordelaar, baasbakker en voedselstilis Mari-Louis Guy vertel vir ons watter kant toe die trends wys.
“Die troukoek het amper so belangrik soos die trourok geraak as gekyk word na verpersoonliking van ’n troue en kenmerk van die troupaartjie se estetika,” sê Mari-Louis.
Koekborde en -staanders het effens wegbeweeg van piouter en silwer na organiese materiaal soos houtstompe en ongeglasuurde keramiekwerk.
Rose
“Metaalkleure gekombineer met pastelle is groot nuus. Nuwe versiersels soos ’n groot verskeidenheid eetbare blinkers lei tot pragtige nuwe ontwerpe met geometriese patrone, ruffles en oorgroot blomme as versiering. Naakte koeke is steeds gewild, maar stadig aan die taan en ek verwag dat botterversiersel binnekort die groter trend gaan wees.”
Makrolletjies
Frans, Frans, alles is Frans: Dink aan Paryse “stofpienk” kleure en effense oorversierde detail. Met geure is daar egter nog nostalgie – byvoorbeeld Ouma se appelkoekresep of immergewilde middernagsjokoladekoeke.
Dink ’n bietjie wyer: Interessante mengeldrankiegeure soos Gin and Tonic (maar met craft jenewer gemaak of jenewer van daardie streek) of craft-bier gemeng met donker sjokolade. Soet en sout is immergewild; cheddar gemeng met appelgeure, spek en esdoring, sjokolade en gerookte soutvlokkies.
Kolwyntjietorings is al lank in die mode, omdat dit die perfekte porsiegrootte is en ook as nagereg kan dien, sê Mari-Louis. Dit is egter tyd vir nuwe soorte eenporsietorings.
“Maak dit van eclairs (poffertjes) – dink crouqembouche met gespinde suiker en suikerskoenlappers, of eenporsie eclairs versier in pastelle, of seekleure en die Pantone kleur van die jaar: Marsala. Macarons in ’n toring gepak, marveilleux’s in hul pragtige opgepofde vorms of ’n stapel gepak met oliebolle. Petit fours is ’n pragtige Franse gebak en lyk asemrowend op die koekstaanders. Dit maak ook ‘n gerieflike geskenkie om huis toe te neem.
Dit beteken egter nie dat die tradisionele vrugtekoek verdwyn het nie. Om die waarheid te sê, Mari-Louis meen dat dit nou weer meer gewild gaan raak met die groei van nostalgie.
“Moderne kinkels sluit in om dit met die bekende brandewyn te besprinkel en ook daarmee te bedien, in klein glasies voorgesit op die bord met ’n snytjie vrugtekoek en selfs geklopte brandewynroom. Versiersels is barokagtig met marsepeinvrugte en selfs goue versiersels. Dit kan ook moderniseer word in petit four vorm. Neute soos makadamia word heel in die beslag gemeng en ’n groter verskeidenheid droëvrugte en bessies, soos appelliefies, bosbessies (cranberries) en aarbeie, lei tot nuwe geure.”