Thursday 11 June 2015

DANIE SE BUDGET GROENTESOP EN BROOD




DANIE SE BUDGET GROENTESOP EN BROOD: [IRISH-BOERTJIE]
GENOEG VIR 10 PERSONE:
Ek maak kos na smaak en na my gevoel en sak natuurlik.
Om hierdie groente sop te maak (dit sal 10 mense se mage oorvol maak, en daar sal nog vir die katte en honde ook iets oor wees) gebruik ek my swart platboom kastrol. Ek sê nou kastrol, want ek dink die woord pot is dalk te platvloers.
MAAK SO:...
Die kastrol hou sowat 5liter water, maar vir die resep gebruik ek slegs 4liter water waarin ek dan sommer dadelik 3 pakkies SPAR special sop poeier ingooi en goed deur roer met my lepel.
Ek het 2 pakkies groente en een pakkie mushroom sop poeier gekoop ( 4 vir R10) so dis my begin basis, en omdat ek op gas kook, stel ek my vlam maar laag en begin vroeg met die maak van die sop. Gebrande kos is tog nie lekker nie, en as jy dit jaag proe dit ook nie soos regte kos nie
Nou omdat ek ‘n man is, is ek ook inherent lui, so ek maak gebruik van gevriesde groente wat ek afgesmelt het voor ek begin het met die sop. ‘n Pak gemengde groente, maar jy moet seker maak dat daar murg pampoen in is, en nie kool stukke nie. Ons maak nie kool bredie nie, ons maak groente sop en wil nie die mense onnodig gas gee met die kool nie. Dan ook ‘n pak groen boontjies, maar moenie bekommerd raak nie ons gaan nie als gebruik nie.
Neem so 2 koppies van die gemengde groente en 1 koppie van die bone en roer dit in saam met die sopmengsel in die kastrol. En nou kom die verneuk in, ek gooi dan 2koppies klaar gaar geel rys met rosyne in wat oorgebly het van gister se bobotie en rys ete af. En net omdat ek hou van die ekstra soet, gooi ek nog so ‘n paar ontpitte rosyne in die kastrol, jy weet, net so na smaak…
Ek skil dan 3 middelslag aartappels en sny dit in blokkies, so ongeveer 1x1cm maar jy hoef dit nie te meet nie, dis net ongeveer. As dit als dan in is, gooi ek so skotige vinger vol sout en gemaalde peper by sit die vlam op full blast en roer die sop tot dit begin kook. Wees versigtig dat jy nie die groente stukke fyn maak met die lepel nie. Sodra dit kook, stel ek die brander tot op sy laagste, en sit ‘n deksel op die kastrol.
Nou loop ek weg en gee die pot (‘n kastrol kan dit tog nie doen nie) ‘n kans om op sy eie tyd aan te prut en te praat met die mengsel in hom. Na sowat 45 minute kom draai ek die vlam dood en gee net so een vinnige omroer (met dieselfde lepel, want ek is man en ek is te lui om nog skottelgoed vuil te maak wat gewas moet word).
Nou is dit net vir opskep en op dress met so ‘n paar druppels Worcester sous en ‘n takkie pietersielie. Smeer die brood rolletjies met regte botter en bedien aan die honger monde in die huis.
Hiedie sop gereg sal 10 mense gemaklik vol maak en daar sal nog genoeg oor bly vir woef en kiets se bakke.
En natuurlik is die bonus dat die ete met brood en al minder as R50.00 gekos het.