Friday 22 May 2015

Ryk torpedo-aartappels



Ryk torpedo-aartappels

Jy benodig:
4 aartappels so groot soos jou handpalm
1 pakkie rugspek
1 klein rooiui of 1 groot prei, gekap
vars gekapte pietersielie, na smaak
’n groot handvol gerasperde, beleë cheddar
½ bakkie roomkaas
rooipeper na smaak
paprika na smaak
aartappelspeserye na smaak
’n bietjie blatjang
Só maak ’n mens:
1. Kook die aartappels in soutwater tot net-net sag (maak seker die aartappels blus nie). Dreineer en spoel af met koue water. Laat afkoel totdat jy dit gemaklik kan hanteer. Sny die onderkant van die aartappels gelyk sodat dit mooi stewig kan staan.
2. Sny die bokant van die aartappels af en hol elke aartappel versigtig uit met ’n teelepel. Maak seker dat jy die nie buitenste dop breek nie. Plaas die aartappel wat jy met die teelepel uitgeskep het in ’n mengbak en druk fyn met ’n vurk.
3. Braai vier repies van die spek. Rol dit op en plaas ’n spekrolletjie binne-in elke aartappel. Plaas die aartappels op ’n bakplaat wat met foelie of kleefwerende bakpapier uitgevoer is.
4. Meng die aartappel wat jy uitgeskep het met die roomkaas, die helfte van die cheddar, pietersielie en geurmiddels. Skep dit nou terug in die aartappeldoppies. Maak elke doppie lekker vol.
5. Sprinkel die res van die kaas oor. Draai die res van die spek (rou) om elke aartappel en steek vas met tandestokkies.
6. Bak die aartappels by 200 °C vir 20 minute.
7. Haal uit en bestryk buite-om met die blatjang en bak dan nog sowat 10 minute. Sit dadelik voor.