Friday 22 May 2015

Heel sitrushoender oor die kole




Heel sitrushoender oor die kole
Vir 4-6
Voorbereityd 10 minute plus marineertyd...
Gaarmaaktyd 45 minute

Dié braaihoender se rokerige geur vra vir ’n groenmielie wat langs hom op die rooster lê, of ’n vars salsa van gekapte pynappel en kruisementblare.
Jy benodig
• ’n heel hoender van 1,5-2 kg
• 2 knoffelhuisies
• ¼ koppie tamatiesous
• 6 eetlepels sojasous
• 1 eetlepel paprika
• 1 teelepel gerookte paprika
• 1 teelepel rooipeper
• 1-2 nartjies
• ¼ eetlepels olyfolie
So maak jy
1 Draai die hoender om sodat die borsbeen na onder wys. Gebruik ’n kombuisskêr en knip die rugstring aan albei kante oor die lengte van die hoender los van die res van die karkas sodat jy die hele rugstring kan verwyder. Draai dan die hoender om en druk dit met albei hande plat om die borsbeen te breek sodat die hoender plat lê.
2 Kap die twee knoffelhuisies baie fyn en meng dit met die tamatiesous, sojasous, paprika en rooipeper. Druk die sap van 1 nartjie daarin uit en roer die olyfolie daarby in. Plaas die hoender in ’n bak, gooi die helfte van die sous daaroor uit en masseer dit goed in die hoender in. Laat die hoender vir ’n paar uur of oornag marineer.
3 Sorg dat die hoender kamertemperatuur is voor jy dit braai. Plaas dit velkant na onder op die braai en braai dit vir ongeveer 10 minute totdat die vel bros en goudbruin is. Draai die hoender om en skuif dit na ’n koeler deel van die vuur. Gebruik ’n kwas om van die marinade oor die hele hoender te smeer terwyl jy aanhou om dit elke 10 minute om te draai.
4 Toets die hoender ná 35 minute deur ’n skerp mes in die dikste deel van die vleis te steek – as die sap wat uitloop deurskynend en nie bloederig is nie, is die hoender gaar. Indien nie, braai dit vir nog 10-15 minute. Onthou dat die hoender steeds gaarder word nadat jy dit afgehaal het. Moet die vleis dus nie té droog braai nie, dit moet net nie meer pienk wees teen die been nie.
5 Verwyder die hoender, bedek dit ligweg met foelie en laat dit vir 10 minute rus voor jy dit sny. Sny intussen die oorblywende nartjie in die helfte, besprinkel dit met suiker en braai die twee helftes met die oop kant na onder op die rooster. Sny die hoender in stukke, spat ’n paar ekstra lepels olyfolie oor die vleis en druk die warm nartjiesap daaroor uit.