Monday 25 May 2015

Mareli se raaiselkoek





Mareli se raaiselkoek

Bestanddele

Sponskoek
4 eiers
150 ml water
150 ml olie
300 g strooisuiker
15 ml vanielje
300 g koekmeel
18 ml bakpoeier
3.5 ml sout
Pruimkonfyt
4 pruime
1 k suiker
skil van ½ suurlemoen (skil en wit)
Fortuinkoekies
2 eierwitte
¼ t vanielje
knippie sout
½ k koekmeel
½ k suiker
7 minute-versiersel
1 ½ k suiker
2 e glukose
6 groot eierwitte
1 t vanielje

Instruksies


Die pronkgebak-uitdaging in die raai-raai-episode was vir die Koekedore ’n groot verrassing. Hulle moes aan ’n raaisel dink en die antwoord in die koek wegsteek. Die bonus van Mareli se wenkoek is dat sy leidrade ook in die fortuinkoekies versteek het.
Mareli se raaisel: Wat is een keer in ’n oomblik, een keer in ’n maand en twee keer in ’n millennium? (Antwoord onderaan die resep).
Sponskoek
Metode:
1. Klits eiergele, water en olie en voeg die suiker stadig by.
2. Klits die eierwitte tot sagtepunt.
3. Sif die meel, sout en bakpoeier en vou in. Vou eierwitte ook in.
4. Deel die mengsel in drie dele.
5. Bak 2 van die 3 dele in 2 x 20 cm ronde koekpanne teen 180 °C vir 20 minute.
6. Meng die oorblywende derde met ’n halwe houer rooi koekkleursel.
7. Gooi die rooi beslag in ’n 16 cm ronde koekpan.
8. Bak tot gaar en laat afkoel.
Pruimkonfyt
Ontpit die pruime, voeg die suiker en suurlemoen by en kook op mediumhitte vir ongeveer 20 minute tot konfyt.
Fortuinkoekies
1. Verhit die oond teen 220 °C.
2. Klits die eierwit en vanielje tot skuimerig, sif die meel, sout en suiker by en meng tot glad.
3. Verdeel die deeg in 5 gelyke dele en meng die dele elk met die volgende kleure:
Geel, oranje, groen, blou en rooi.
4. Plaas ’n teelepel vol van die deeg op ’n voorbereide bakplaat en bak 5-7 minute.
5. Haal uit die oond, plaas opgevoude raaisel binne-in, vou toe soos fortuinkoekie en laat afkoel.
6. Maak nou een van elke kleur.
7 minute-versiersel
Metode:
1. In jou Kenwood-mengbak binne-in kokende water op die stoof, meng die eierwit, suiker en glukose.
2. Roer oor mediumhitte totdat al die suiker opgelos is – voel dit tussen jou vingers.
3. Haal van die stoof af en klits met die klitser tot glansend en koud, omtrent 5 minute.
4. Meng die vanielje by en gebruik dadelik.
Konstruksie
1. Sny die wit en rooi koek in die vorm van ’n ‘M’.
2. Gebruik die rooi pruimkonfyt om die rooi dele aanmekaar te sit.
3. Plak die wit koek met die 7 minute-versiersel.
4. Versier die hele koek buite met die 7 minute-versiersel.
5. Sit die 5 fortuinkoekies bo-op met die 5 raaisels.
Die antwoord op die raaisel: Die letter ‘m’.