Friday 22 May 2015

Maklike muffins



Maklike muffins
Lewer 12 MUFFINS...
Bereiding: 20 minute
Gaarmaaktyd: 20 minute

Dié wonderlike resep het in Huisgenoot Wenresepte 2 verskyn en is regtig ’n staatmaker, want die beslag hou tot ’n maand in die yskas.
Bak net elke keer soveel muffins as wat nodig is en voeg telkens iets anders soos rosyntjies, dadels, neute, klapper of gekapte appel by. Jy kan ook ’n bietjie minder suiker byvoeg as jy wil.
375 ml semels
125 ml kookwater
60 ml (¼ k) gesmelte botter of
margarien
180 ml (3/4 k) suiker
1 eier, geklits
250 ml (1 k) karringmelk
6 ml (1¼ t) koeksoda
160 ml (2⁄3 k) ongesifte koekmeel
160 ml (2⁄3 k) volkoringmeel
2 ml (1/2 t) sout
rosyntjies, dadels, neute, klapper, gerasperde geelwortel, pynappel of appel na smaak
kaas of ander vulsel om mee voor te sit
Voorverhit die oond tot 220 °C.
Smeer die holtes van ’n muffinpan of bespuit met kossproei.
Meng die semels en kookwater in ’n groot mengbak. Voeg die botter of margarien by en laat die mengsel effens afkoel.
Voeg die suiker, eier en 200 ml van die karringmelk by en meng.
Meng die koeksoda met die res van die karringmelk en meng dit by die semelmengsel in.
Meng die koekmeel, volkoringmeel en sout. Voeg die rosyntjies of waarvoor jy lus het by.
Voeg dié mengsel by die semelmengsel en meng tot net gemeng; die deeg is taamlik slap.
Skep die deeg in die muffinholtes tot twee derdes vol. Bak 20 minute op die middelste oondrak.
Keer versigtig op ’n draadrak uit om af te koel.
Sit voor met kaas of ander vulsel