Friday 22 May 2015

Karamel-springmieliebolle



Karamel-springmieliebolle
Vir 10
Voorbereityd 10 minute...
Gaarmaaktyd 15 minute

Hierdie spingmieliebolle bly effens taai en jy kan eenvoudig nie ophou om daaraan te peusel nie! Ek hou van soutige karamel, maar die sout kan ook heeltemal weggelaat word.
Jy benodig
• 2 koppies rou springmieliepitte
• ½ koppie botter
• 1 koppie bruinsuiker (druk soveel as moontlik in die koppie vas)
• 1 koppie heuning of esdoringstroop
• 1 blikkie (385 g) kondensmelk
• 1½ teelepels seesout (of na smaak) plus ekstra
Só maak jy
1 Spring die mielies in ’n groot kastrol met ’n bietjie sonneblomolie – volg die aanwysings op die verpakking. Gooi die gaar spring-mielies in ’n groot plastiekbak.
2 Gooi die botter, suiker en heuning of stroop in ’n potjie oor matige hitte en roer dit totdat die suiker gesmelt het, maar nog nie kook nie.
3 Verhit die mengsel stadig tot kookpunt en roer die kondensmelk en sout by. Hou aan roer totdat die mengsel weer kook; dit sal ná ’n paar minute die “sagtebalstadium” bereik (sien wenk hiernaas).
4 Meng die karamel met die springmielies en roer dit deeglik deur met ’n houtlepel.
5 Wag totdat dit effens afgekoel het en vorm dan vuisgroot springmieliebolle met jou hande. Sprinkel ekstra sout na smaak oor. Laat die bolle afkoel en rol dit een-een toe in waspapier (dit sal vir minstens drie dae in ’n lugdigte houer hou).
WENK Só toets jy of die karamel gereed is: Drup van die kokende karamel in yswater. Sodra die druppel karamel ’n sagte bolletjie maak wat sy vorm behou, is die karamel reg.