Friday, 10 April 2015
SAMPIOEN TERT BY BRAAIVLEIS
SAMPIOEN TERT BY BRAAIVLEIS:
Vir 6
Voorbereityd 10 minute
Gaarmaaktyd 1 uur
Die rand raak lekker bros endie pap absorbeer die sampioene se sous....
BENODIG:
2 koppies water
½ teelepel sout
225g braaipap, of ’n mengsel van polenta en mieliemeel
2 koppies gruyèrekaas, gerasper
1 klein ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
750g (3 pakkies) gemengde bruin en portobellosampioene, in skyfies gesny
olyfolie of botter
¼koppie balsemiekasyn
2 eetlepels bruinsuiker
4 eetlepels sojasous
¼koppie pietersielie, gekap
2 eetlepels vars tiemie of roosmaryn, gekap
MAAK SO:
Verhit die water en sout tot kookpunt. Roer die meel by en laat dit vir 20 minute prut tot dit gaar is.
Roer ’n hand vol kaas by die pap in.
Spoel ’n vlak bak (20 x 30cm) met koue water uit (dit keer dat die pap vassit) en keer die pap daarin uit. Sprei dit eweredig uit. Bedek dit met foelie en laat die pap oornag afkoel.
Braai die ui, knoffel en sampioene in ’n bietjie botter of olyfolie in ’n pan. Gooi die asyn, suiker, sojasous en gekapte kruie ná 5minute by. Laat die helfte van die vloeistof wegkook. Proe en voeg nog sojasous, asyn of suiker na smaak by, en laat prut. Verwyder dit van die hitte en voeg 2 eetlepels botter by.
Keer die koue pap op ’n werkoppervlak uit en sny dit in twee ewe groot blokke. Sit die een blok op ’n oondpan wat met botter of olyfolie gesmeer is. Skep driekwart van die sampioenmengsel op die pap en strooi ’n hand vol kaas bo-oor. Sit die ander blok pap soos ’n kors bo-op. Strooi die res van die kaas bo-oor en besprinkel met ’n klein bietjie olyfolie.
Bak dit vir 30 minute by 180°C tot die bokant bros is. Sny die tert in skywe en sit dit saam met die res van die sampioensous bo-oor voor.
[Bron: Aletta Lintvelt]