Friday 17 April 2015

Patat-en-botterskorsie-pasteie




Patat-en-botterskorsie-pasteie
Dit is ’n skitterende manier om jou gesin groente te laat geniet.
Lewer 8
Bereiding: 15 min....
Verkoel: 30 min.
Gaarmaak: 45 min.
1 eier, geklits
JOGURTDEEG
560 ml (2¼ k) meel, plus ekstra vir bestuif

’n knippie sout
200 g botter, koud
500 ml (2 k) gewone jogurt
VULSEL
30 ml (2 e) olie
1 ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
5 ml (1 t) kerriepoeier
200 g patat, geskil en in blokkies gesny
200 g botterskorsie, in blokkies gesny
160 ml (⅔ k) groente-aftreksel
sout en peper
’n hand vol koljander, gekap
Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
1. Jogurtdeeg Sif die meel en sout in ’n bak en rasper die botter daaroor. Vryf dit botter by die meel in tot dit soos broodkrummels lyk. Roer die jogurt in en knie liggies om ’n deeg te vorm. Voeg nog meel by indien nodig.
2. Verdeel in die helfte, bedek elke stuk met kleefplastiek en verkoel 30 min. of tot ferm. Bestuif 1 stuk deeg met meel en rol uit op ’n oppervlak wat met meel bestrooi is. Sny sirkels uit die deeg. Herhaal met die oorblywende deeg.
3. Vulsel Soteer die ui oor matige hitte in ’n kastrol, roer die knoffel en kerriepoeier in en voeg dan die groente by. Giet die aftreksel in en geur met sout en peper. Bedek en laat prut 20 min. of tot die groente deurgaar is.
4. Maak die mengsel grof fyn met ’n aartappelfynmaker, roer die koljander in en proe die geursel. Laat heeltemal afkoel.
5. Skep 45 ml (3 e) vulsel op die helfte van die deegsirkels, verf die rande met eier en bedek met die oorblywende deegsirkels.
6. Pak op ’n bakplaat. Herhaal die proses tot al die deeg gebruik is. Verf met eier, maak 3 splete bo-op elke pastei en bak 20 min. of tot goudbruin.