Wednesday 25 February 2015

“Vat die dag stadig”-ontbytvlegsel




“Vat die dag stadig”-ontbytvlegsel
Die resep is genoeg vir 6
DEEG
10 g (1 pakkie) kitsgis...
80 ml (1⁄3 k) strooisuiker
500 g witbroodmeel
5 ml (1 t) sout
100 g Stork Bake, saggemaak
1 ekstra groot eier
30 ml (2 e) esdoringstroop

160-180 ml (2/3 – ¾ k) warm melk
VULSEL
5 ml (1 t) fyn kaneel
100 g geroosterde pekan- of
okkerneute, fyn gekap
80 ml (1⁄3 k) ligbruinsuiker
50 g Stork Bake, gesmelt en afgekoel
1 eier
60 ml (¼ k) melk
60 ml (¼ k) esdoringstroop
DEEG
Meng die gis, suiker, meel en sout in ’n bak. Maak ’n holte in die middel. Klits die STORK BAKE, eier, stroop en melk saam en giet dit in die holte. Meng tot ’n sagte deeg vorm. Knie dit sowat 10 minute op ’n meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties. Plaas die deeg terug in die bak, maak lossies toe met kleefplastiek en laat staan op ’n warm plek tot dubbel so groot gerys.
VULSEL
Meng die kaneel, neute en suiker.
Knie die deeg af en rol dit uit in ’n reghoek van sowat 1 cm dik.
Borsel met die gesmelte STORK BAKE en strooi die neut-mengsel eweredig oor die deeg. Vou die een kant van die reghoek oor die deeg. Rol effens dunner uit en sny in drie ewe lang repe.
Vleg die repe lossies en plaas in ’n gesmeerde bakplaat. Bedek losweg met kleefplastiek en laat rys nog 30-40 minute.
Verhit intussen die oond tot 180 °C.
Klits die eier en melk saam en borsel eweredig oor die vlegsel. Bak 25-30 minute tot goudbruin en deurgaar.
Verhit die stroop en laat prut 1 minuut. Borsel die vlegsel hiermee sodra dit uit die oond kom. Laat afkoel.