Wednesday 25 February 2015

Errieda du Toit se Melktert



Errieda du Toit se Melktert

Maak 3 melkterte 
Skilferkorsdeeg (genoeg vir 3 terte)  
Bestanddele
  • 1,3 kg meelblom
  • 3 ml sout
  • 5 ml kremetart
  • 250 g botter of margarine
  • 4 eiers, geskei
  • 30 ml suurlemoensap
  • Yswater
  • Smeerlaag: 375 g botter (of margarine), gemeng met  500 ml meel en 5 ml kremetart
  • Mielieblom, of meelblom vir uitrol van deeg.
Metode (vir deeg)
  1. Sif die meelblom, sout en kremetart saam.
  2. Vryf die botter of margarien in, tot die mengsel soos broodkrummels lyk.
  3. Voeg die suurlemoensap by die eiergele en vul met yswater aan tot 600 ml. Klits goed saam.
  4. Voeg die eiermengsel by die meelmengsel en werk tot ‘n gladde deeg. Bêre in die yskas vir ± 20 minute.
  5. Terwyl die deeg rus, maak die bottersmeerlaag: Sif 500 ml meel en 5 ml kremetart saam, verroom dit met die botter om ‘n sagte smeer te vorm.
  6. Rol die deeg uit op ‘n mielieblom-bestrooide werksarea en smeer dit met die botter- en meel smeerlaag. (onthou om altyd weg van jou af te rol met kort, ligte bewegings – die geheim is om nie die deeg onnodig te rek nie). Vou die deeg, bedek met plastiek en bêre weer in yskas vir 20 minute. Herhaal die rol proses en vou. Bêre tot benodig.
Melktertvulsel (genoeg vir 3 terte)
Wenk: voer jou blikborde met uitgerolde deeg voor jy die melktertpap begin maak, en plaas blikborde – bedek – terug in die yskas tot die pap klaar is. Voorverhit jou oond ook – want sodra die vlapap reg is, moet dit vuurwarm in die tertkors gegooi word en oond toe gaan.
Bestanddele
Vir stap 1:
  • 300 ml meelblom
  • 75 ml mielieblom
  • 5 ml sout
  • 180 ml suiker
Vir stap 2:
  • 6 eiergele
  • 1 ml “egg yellow” kleursel (of mespunt borrie) as eiergele te lig is
  • 15 ml vanieljegeursel
  • 2 druppels amandelgeursel
  • 500 ml melk
Vir stap 3
  • 1½ liter melk
  • 1 kaneelstokkie
  • 25 g botter
  • 250 ml suiker
  • 80 ml koue water
Vir stap 4
  • 6 eierwitte
  • 120 ml suiker
  • Kaneel of kaneelsuiker vir oorstrooi (opsioneel)
Metode vir vulsel 
Stap 1: Sif die meelblom, mielieblom, sout en suiker saam. Hou eenkant.
Stap 2: In ‘n aparte mengbak, klits die eiergele, eiergeel kleursel, amandergeursel en 500 ml melk  liggies saam. Hou eenkant.
Stap 3:  Voeg die 1½ liter melk, kaneelstokkie, botter, suiker en koue water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt.
Stap 4: In ‘n aparte bak, klits die eierwitte en suiker saam tot punte vorm. Hou eenkant.
  1. Voeg die eiermengsel van stap 2 by die meelmengsel van stap 1 om vla te vorm.
  2. Voeg die warm melkmengsel van stap 3 by die vlamengsel (nie in die kastrol nie), meng vining en plaas terug in die kastrol.
  3. Roer oor lae hitte tot verdik. Een “plop” van die mengsel is die aanduiding dat die vlapap reg is.
  4. Gooi terug in die vlamengsel-bak en vou die eierwitte van stap 4 in.
  5. Giet van die vlamengsel in blikborde wat met skilferkors uitgevoer is en bak by 225ºC vir 10 minute. Draai hitte af na 200ºC en bak vir nog 5 minute. Roteer en draai die borde en bak vir nog 5 minute.