Tuesday 24 February 2015

Eier-toebroodjies




Eier-toebroodjies:

Ek gee nie vir hierdie resep hoeveelhede nie want jy kan die bestanddele na jou smaak gebruik. Hierdie is net ’n idee; jy moet gebruik wat in jou huis is en waarvan jy hou.

wit brood – gewone kêfiebrood wat verkieslik ’n dag oud is en in dikkerige snye gesny is.
roomkaas (blok-soort)
vrugte – jy kan bessiekonfyt, gestoofde droëvrugte (sonder stroop of sous) of vars vrugte gebruik (frambooskonfyt werk baie lekker).
eiers (een eier per toebroodjie behoort te werk)
vanieljegeursel (2,5 ml vir elke eier)
melk (so 10 ml vir elke eier)
suiker (10 ml vir elke eier)
botter

Haal die roomkaas uit die yskas en laat staan buite tot kamertemperatuur (dit moet sag voel).
As die vrugte in groot stukke of heel is, kap dit nogal fyn (nie groter as 1 cm x 1 cm).
Meng gelyke hoeveelhede vrugte en roomkaas.
Smeer ’n sny brood met die vrugte-en-roomkaas-mengsel – redelik dik, soos jou ouma botter en jêm op haar brood gesmeer het.
Sit ’n ander sny brood op om ’n toebroodjie te maak en druk die broodjie so effens plat met jou hand sodat die hele affêre aanmekaar vassit.
Klits die eiers deeglik (daar moenie wit stukke sigbaar wees nie).
Klits die melk, suiker en vanielje by.
Doop die broodjies in die eiermengsel en braai in ’n bietjie botter oor ’n redelik lae temperatuur tot goudbruin en warm. (Jy kan dié wat reeds gebraai is onbedek en op ’n afkoelrak in ’n lae oond warm hou.)
Sny soos ’n toebroodjie, strooi met versiersuiker en drup met warm heuning of stroop.

(resep uit 'n nuusblad)