Tuesday 27 January 2015

LOK EN VOER SKOENLAPPERS

 
 
LOK EN VOER SKOENLAPPERS
Maak ’n vlinderbottel
 Maak ’n bottel of ’n blikkie vol blomme – hoe helderder, hoe beter – en voeg ’n sponsie wat in suikerwater gedoop is, daarby om die vlinders na jul tuin te lok. Julle kan ook oorryp vrugte op ’n bordjie neersit (kyk onder).
Julle het nodig
 1 glaspotjie met ’n skroefdeksel
 1 spyker of ander skerp punt

 1 stuk tou van sowat 1,3 meter (ons het helderkleurige tou gekies om die prentjie kleurryker te maak)
 naald en gare
 verskeidenheid kunsblomme
 1 standaardgrootte-kombuissponsie
 suiker
 water
 1 glasie
 1 teelepel
 1 kombuishaak
Maak so
1 Druk met ’n spyker ’n kleinerige gaatjie in die deksel.
2 Sny ’n stuk tou van 30 cm van die langer stuk tou af. Bind dit styf om die nek van die bottel.
3 Sny nog ’n stuk tou van sowat 55 cm lank. Knoop dit aan die tou om die nek vas en strek dit aan een kant van die bottel af tot by die bodem. Knoop ’n lus van sowat 15 cm lank by die bodem, strek die tou aan die teenoorgestelde kant van die bottel op en knoop aan die tou om die nek vas.
4 Sny ’n laaste stuk tou van 37 cm en knoop en strek dit soos by 3 hierbo om die bottel, maar sonder om ’n lus by die bodem te maak.
5 Druk die kunsblomme onder die toue in en werk vas met naald en gare.
WENK As dit nie vasgewerk is nie, gaan die wind dit wegwaai.
6 Sny ’n repie van sowat 10 cm x 2 cm uit die spons.
7 Druk een punt van die spons deur die gaatjie in die deksel. Trek die sponsie deur die gaatjie tot daar 2 tot 3 cm uitsteek.
8 Maak suikerwater deur 1 deel suiker by 9 dele water te roer. en giet die oplossing in die flessie. Skroef die deksel toe.
9 Draai die bottel onderstebo sodat die sponsie onder is. Die sponsie behoort net-net nat te bly met die suikeroplossing.
10 Haak die lus aan ’n hakie en hang die vlinderbottel aan ’n boomtak op.
(Huisgenoot)