Thursday 23 October 2014

Pienk Port-kolwyntjies




Kolwyntjies met Skop (resepteboek) - Simone Balman

Pienk Port-kolwyntjies

Jy het nodig:...

2 ¼ k (315 g) koekmeel
1 t (5 ml) koeksoda
1 t (5 ml) bakpoeier
1 t (5 ml) sout
1 ¾ k (350 g) suiker
1 k (250 ml) plantolie
2 groot eiers
½ k (125 ml) karringmelk
2 t (10 ml) vanieljegeursel
1 t (5 ml) gedistilleerde witasyn
1 k (250 ml) pienk portwyn

Vir die versiersel

1 k (250 ml) volvet-roomkaas
2 E (30 ml) pienk portwyn (alternatiewe: enige soetwyn, gefortifiseerde versnitwyn of sjerrie sal werk)
½ k (60 g) gesifte versiersuiker

Versierings
Koekglinsterstof
Vars aarbeie (opsioneel)

Só maak ‘n mens:

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 24 holtes van kolwyntjiepanne met papiervorms uit.

2. Sif die koekmeel, koeksoda, bakpoeier en sout saam.

3. Meng die suiker en olie in ‘n aparte bak. Voeg die eiers, karringmelk, vanieljegeursel, asyn en port by. Voeg ‘n bietjie van die droë bestanddele by die nat bestanddele op ‘n slag en meng tot net gemeng.

4. Skep lepelsvol beslag versigtig in elke papiervorm totdat dit sowat twee derdes vol is. Moenie dit te vol maak nie omdat dié beslag nogal baie rys. Bak vir 17-20 minute of totdat ’n toetspen skoon uitkom. Laat sowat vyf minute afkoel voordat jy dit op ’n rak uitkeer. Hierdie kolwyntjies se vorm sal ‘n bietjie verbeter nadat dit gebak is en is ‘n uur of wat daarna klammer.

5. Om die versiersel te maak, verroom die roomkaas in jou elektriese menger tot sag. Voeg die port by en klits weer goed. Voeg die versiersuiker geleidelik by na smaak.

6. Versier die kolwyntjies met die versiersel en strooi ‘n bietjie koekglinsterstof oor. Sit ‘n vars aarbei bo-op indien jy wil.