Tuesday 28 October 2014

Pampoenpoffers met ’n roosmaryn-en-tiemiestroop




Pampoenpoffers met ’n roosmaryn-en-tiemiestroop

Genoeg vir: 4-6
Bereidingstyd:
10 minute, plus staantyd
Gaarmaaktyd:
20 minute

• 300 g gaar pampoen, goed gedreineer
• 120 g (220 ml) koekmeel
• 5 ml bakpoeier
• 1 ml sout
• 1 groot eier, geklits
• sonneblomolie vir vlakbraai
• bloukaas, om voor te sit (opsioneel)

Roosmaryn-en-tiemiestroop
• 105 g (125 ml) suiker
• 2 takkies vars roosmaryn
• 2 takkies vars tiemie

1 Stroop Verhit 140 ml water en die suiker tot kookpunt. Verlaag die hitte, voeg die roosmaryn en tiemie by en laat dit vir vyf minute prut.

Haal dit van die plaat af en laat dit vir ’n uur eenkant staan sodat die kruie kan trek. Giet die stroop deur ’n sif en gooi die kruie weg.

2 Poffers Meng al die bestanddele vir die poffers. Verhit ’n lagie olie in ’n kleefvrye pan en braai die poffers tot dit alkant bruin en heeltemal gaar is. Laat dit op kombuispapier dreineer.

3 Sit die poffers warm voor met die stroop oorgedrup. Dit smaak ook vorentoe saam met ’n skyf bloukaas, indien verkies.