Thursday 23 October 2014

Bessie-en-malvalekker-mousse met ’n pienk hart-koekie




Bessie-en-malvalekker-mousse met ’n pienk hart-koekie 
Genoeg vir: 6...
Bereidingstyd: 20 minute, plus yskastyd
Gaarmaaktyd: 3 minute
Oondtemperatuur: 150 °C
Koekies
• 2 groot eierwitte
• 45 ml botter, gesmelt en afgekoel
• helderpienk jel-koskleursel
• 75 g (135 ml) koekmeel
• 30 ml mielieblom
• 105 g (120 ml) strooisuiker
Mousse
• 250 g vars bessies
• 10 ml rooswater
• 15 ml suiker
• 25 wit malvalekkers
• 30 ml Amarula- of roomlikeur
• 250 ml room
1 Koekies Klits die eierwitte en gesmelte botter saam tot dit goed skuimerig is. Roer ’n klein bietjie koskleursel op ’n slag by.
2 Sif die meel, mielieblom, 1 ml sout en suiker in ’n aparte bak. Roer 30 ml water by die meelmengsel.
3 Voeg die meelmengsel by die eierwitte en roer dit om ’n gladde beslag te vorm (dit moet maklik van ’n houtlepel af afdrup). Laat dit vir 15 minute in die yskas rus.
4 Maak ’n patroonvel deur met ’n handwerkmes hartvorms uit ’n vel asetaat te sny.
5 Haal die beslag uit die yskas. Sit die asetaatvel op ’n gesmeerde bakplaat. Smeer ’n lepel vol beslag oor die hart-openinge en lig die vel asetaat versigtig op. Maak die rande van die harte netjies. Bak dit vir 7-10 minute in die verhitte oond tot net voor die rande goudbruin is en jy dit maklik met ’n paletmes van die bakplaat af kan lig. Laat dit op ’n draadrakkie afkoel en hard word. Herhaal dit met die orige beslag.
6 Mousse Kap die bessies fyner en voeg die rooswater en suiker by. Skep dit in klein glasies.
7 Verhit die malvalekkers in ’n bak in die mikrogolfoond tot dit begin oppof. Haal dit uit en roer dit tot dit glad is. Roer die likeur by en laat dit eenkant afkoel.
8 Klits die room styf. Roer ’n bietjie van die room by die malvalekker-mengsel en vou dan die orige room in. Skep of spuit dit op die bessies en sit die glasies in die yskas tot jy dit wil voorsit. Rond elke glasie af met ’n hart-koekie.