Wednesday 23 July 2014

Suurlemoen-en-amandel-ricottakoek met sitrus en stroop





Suurlemoen-en-amandel-ricottakoek met sitrus en stroop
Dié klam koek het ’n kaaskoektekstuur en die sitruscompote met die subtiele tiemiegeur is besonders. Heerlik vir nagereg of teetyd. (Resep: Diane Henry)
Sap van 3-4 lemoene (280 ml)
175 g suiker
3 stroke suurlemoenskil
4 takkies suurlemoentiemie of tiemie
Sap van ½ suurlemoen
2 lemoene
2 wit pomelo’s
2 rooi pomelo’s
Vir die koek:
175 g sagte botter
175 g goue strooisuiker (maak geelsuiker fyn in ’n versapper)
Gerasperde skil en sap van 3 suurlemoene
3 eiers, geskei
250 g ricotta, gedreineer
100 g bruismeel, gesif
25 g fyngemaalde amandels
5 ml bakpoeier
Begin met sitrus-compote: Verhit die lemoensap saam met die suiker, suurlemoenskil en tiemie en roer nou en dan sodat die suiker oplos. Prut vir 25 minute of tot die mengsel stroperig is. Voeg die sap van ’n halwe suurlemoen by en laat afkoel. Sny die kop en onderkant van elke sitrusvrug af om ’n plat basis te vorm. Sit die vrug op die plat kant neer en skil die skil en wit vleis af. Sny in dun skywe of verwyder elke segment deur tussen die vleis en die membraan te sny (vir mooiste resultate). Vang enige sap op en voeg by die sitrusstroop. Plaas die sitrussegmente of skywe in ’n plat bak en gooi die stroop oor. Verwyder tiemietakkies. Verkoel.
Koek: Voorverhit oond tot 180 °C. Smeer ’n 20 cm-losboom-klamppan.
Klop botter en suiker tot lig en romerig in ’n mengbak. Klop die suurlemoenskil by. Klits die eiergele met ’n vurk en voeg geleidelik by en klits goed ná elke byvoeging.
Roer die ricottakaas en suurlemoensap by. Klits die eierwitte in ’n aparte bakkie styf. Vou meel, amandels en bakpoeier by beslag. Vou eers 2 groot lepels geklitste eierwit by beslag om dit slapper te maak en vou dan orige eierwit by.
Skep beslag in die voorbereide pan. Bak 40-45 minute tot toetspen skoon uitkom.
Verwyder die ring om die koek en laat effens afkoel.
Bedien effens warm of afgekoel met sitrus-compote en -stroop.