Thursday 12 June 2014

Outydse lamspastei




Outydse lamspastei

Ek het hierdie resep vir ’n vleispastei-vulsel gekry in ’n ou bêreboekie van my ma met tradisionele resepte wat di...e maatskappy Shell in 1949 uitgegee het.
Volg dit vir ’n outentieke smaak, of laat die hardgekookte eier en ham uit en geur die pastei met vars kruisement.

Bedien 8.

Jy het nodig:
4 pond (1,8 kg) lamsvleis (jy kan ook beesvleis of hoender byvoeg)
2 wituie, in ringe gesny
1 blaartjie foelie (dit is die dop van neutmuskaat)
2 onse (30g/4E) botter
sap van 1 suurlemoen
1 glas witwyn
1 E sago
2 hardgekookte eiers
1 rou eier (geskei)
’n paar skyfies ham
’n bietjie wonderpeper
sout en peper na smaak
kors van jou keuse (skilferkors, broskors, sodawaterdeeg of suurroomkors)
Só maak ’n mens:
Sny die vleis in netjiese stukkies.
Smoor die uie in die botter. Voeg nou al die bestanddele by, behalwe die eiers, sago en suurlemoensap.
Stowe nou die vleis tot heerlik sag.
Voeg die sago en ’n goeie klont botter by.
Roer totdat die sago gaar is.
Klits die geel van ’n eier goed op. Klits ’n bietjie water by en dan die suurlemoensap. Voeg by die vleis.
Gooi nou die mengsel in ’n pasteiskottel.
Sny die hardgekookte eiers in skyfies en sit op die mengsel.
Bedek met die uitgerolde kors en smeer die wit van die eier oor.
Prik die deeg en bak in ’n warm oond totdat die kors goed gaar en bruin is.

Huiskok - Errieda du Toit