Wednesday 25 June 2014

Ma Annatjie se melktert




Ma Annatjie se melktert
Hetta van der Merwe, eienaar van Friendheim Catering, deel haar gunstellingresep uit ‘Ma Annatjie’ se resepteplakboek. Melktert is een van Suid-Afrika se geliefde tradisionele resepte waarvan menigte hul eie weergawe het.
(Bedien 8)
...
Vulsel
1 L melk
60 ml suiker
25 ml meel
25 ml vlapoeier
Knippie sout

3 eiers
1 t vanieljegeursel
Kors
80 g botter
80 ml suiker
1 eier, geklits
Knippie sout
250 ml meel
7 ml bakpoeier
125 ml melk
Kaneelsuiker vir versiering
Vir die vulsel: Bring 750ml van die melk en die suiker tot kookpunt. Meng die meel en vlapoeier en los dit op in die res van die melk. Skei twee van die eiers en klits die eiergele, een heel eier en sout saam. Meng die eiermengsel met die vla-en-meelmengsel en klits goed. Giet ‘n bietjie van die verhitte melk by die eiermengsel en meng goed. Giet die vlamengsel by die res van die verhitte melk en sit terug op die stoof. Bring tot kookpunt en roer aanhoudend terwyl die vlamengsel verdik. Kook die vla totdat dit loskom aan die kante en ‘n sisgeluid maak. Sit ‘n deksel op en plaas die kastrol in ‘n wasbak met ‘n bietjie koue water in, laat die vla heeltemal afkoel.
Klits die eierwitte tot sagtepuntstadium en vou dit en die vanieljegeursel by die vla. Skep die vlamengsel in die oondbak bo-op die kors (sien onder) en bak sowat 40 minute by 180ºC tot gaar. Die vulsel sal oppof, maar dit sak weer terug. Sprinkel ‘n bietjie kaneelsuiker oor en sit voor.
Vir die kors: Room die botter en suiker saam in ‘n menger of gebruik ‘n handklitser. Klits die eier by die bottermengsel. Sif die droë bestanddele en roer by die bottermengsel. Klits totdat dit goed gemeng is. Giet ‘n bietjie van die melk by die beslag, net genoeg sodat dit lekker smeerbaar is (dik en smeerbaar). Smeer die deeg in ‘n ongesmeerde oondbak en hou eenkant.
(Pasella)