Friday 23 May 2014

Vulsel Idees vir Pannekoek




Soet vulsels:
Vinnige vulsels sluit in: Karamel kondensmelk met skyfies piesang, roomys; aarbei kitspoeding met skyfies aarbei; vla met piesang en/of ander vrugte; en fyn tertappels en kaneel (meng pitlose rosyne of sultanas by indien verkies)

Sjokoladevulsel: Rasper 150 g sjokolade en meng 30 g gekapte neute en 150 ml room daarmee.
Karamelsous: Smelt ’n blikkie karamel kondensmelk en 80ml melk saam in ’n kastrolletjie. Roer 85g fyngekapte fudge daarby in.

Perskevulsel:  Dreineer ‘n blikkie perskes en sny dit kleiner. Verhit die perskes en 140ml suurroom tot kookpunt, roer gedurig. Meng 5ml mielieblom met 15ml water en gooi by die perskes. Kook vir 3 minute. As jy lus voel kan jy 15ml Amarula, brandewyn of whiskey by die sous voeg.

Gebakte Pannekoekpoeding: Vul die pannekoeke met karamel kondensmelk en skyfies piesang. Rol op en pak langs mekaar in ‘n gesmeerde oondvaste bak. Gooi die 250ml room bo-oor en sprinkel ‘n gekrummelde Flake oor. Bak teen 180°C vir ongeveer 20 minute.

Maklike Melktertvulsel:  Gooi ‘n blikkie kondensmelk uit in ‘n kastrolletjie. Voeg 2 ½ blikkies vars melk by die kondensmelk. Verhit stadig tot kookpunt. Klits die orige ½ blikkie melk met 2 eiers, 45ml mielieblom (Maizena), 15 ml vlapoeier, 1ml sout en 5ml vanillageursel.  Voeg dit by die melk en kook tot dik terwyl gedurige geroer word. Roer 30g margarien daarby en laat afkoel. Vul pannekoek daarmee en sprinkel kaneel bo-oor voor dit opgerol word.

Sout vulsels:
Witsous is die ideale basis vir pannekoekvulsels. Probeer een van die volgende saam met witsous -  of selfs ’n kombinasie: Skyfies vienna, gaar gemengde groente, skyfies hardgekookte eiers, dun gesnyde biltong, tuna, gebraaide sampioene, hoenderborsies met knoffel, skelvis en kaas, gaar maalvleis met sampioene, soetrissie en uie

-Mayonnaise is ook ’n goeie idee: Tuna mayonnaise met gerasperde agurkies, hoender mayonnaise met sampioene en soetrissies, spek-en-eier mayonnaise.

Spinasie-Spek Pannekoekstapel:  Kook ‘n pak spinasie tot dit net gaar is en maak fyn. Braai 2 uie saam met ‘n pakkie spek en meng dit by die spinasie in. Maak ‘n lekker dik witsous en meng gerasperde kaas daarby in.  Hou ‘n koppie van die witsous uit en meng die res met die spinasie en spek. Plaas ‘n pannekoek op ‘n bord, smeer ‘n dun laag vulsel bo-oor en sit ‘n pannekoek bo-op. Herhaal die lae tot die vulsel op is. Plaas ‘n laaste pannekoek bo-op en smeer die orige witsous bo-op. Bedek met ‘n koppie gerasperde kaas en bak teen 180°C tot die kaas gesmelt is. Sny die stapel in skywe (soos ‘n koek) en bedien warm.

Maalvleis-en-Sampioenvulsel: Braai 500g maalvleis en 1 ui saam tot gaar. Sny 250g sampioene in skyfies en braai dit ook tot gaar. Meng dit met die maalvleis. Meng ½ pakkie sampioen roomsoppoeier met 125ml water en roer dit by die maalvleis. Verhit en roer tot die sous verdik.