Thursday 22 May 2014

Maak jou eie heerlike samoesas



Maak jou eie heerlike samoesas

Wenke vir tuis-samoesas
Koop eerder die dun deegrepies van ’n spe­sialiswinkel, of gebruik filodeeg of deeg wat vir Chinese rolletjies berei is. As ’n jy tuissjef vol selfvertroue is en jou eie deeg wil maak, daar is ’n menigte resepte op die internet en natuurlik in Indiese kookboeke.

. Iets oor die vulsels: Ek het vandag by tradisionele vulsels gehou, maar hier is nog ’n paar idees: gemaalde bees-, hoender-, volstruis- of lamsvleis, tuna, gekapte ham, steurgarnale, krapvleis, aartappels, ertjies, sampioene, mielies, lensies, kekerertjies, uie/sprietuie/preie/grasuie, knoffel, wortels, blomkool, spinasie, ’n verskeidenheid kase, dennepitte en ander neute.
Dit is baie maklik om kreatief te raak wanneer jy samoesas maak.

Bief-en-ment-vulsel vir samoesas
. 30 tot 50 ml olie
. 1 middelgroot ui, fyngekap
. 2 knoffelhuisies, fyngekap
. 15 ml vleis-masala of matige kerriepoeier of vars rissie na smaak
. 7,5 ml borrie
. 7,5 ml koljander
. 2 cm vars gemmer, geskil en fyngerasper
. 500 g ekstra maer beesmaalvleis
. 1 klein wortel, geskil en baie fyn gerasper
. 1 klein aartappel, geskil en baie fyn gerasper
. 1 beesvleisaftreksel­blokkie
. ongeveer 250 ml warm water
. 10 takkies vars ment­blare
. 45 ml suurlemoensap
. sout en peper na smaak

1. Verhit die olie in ’n pan, voeg die ui by en soteer ’n minuut of twee. Voeg dan die knoffel en speserye by en braai tot sag en geurig (sowat 3 tot 5 minute).
2. Voeg die maalvleis, aartappel, wortel, aftrekselblokkie en genoeg water om ’n sous te vorm by. Roer deeglik en breek enige groot dele van die maalvleis met ’n houtlepel kleiner. Laat so 10 minute prut totdat die maalvleis gaar is en die meeste water weggekook het. Verwyder van die hitte en roer die mentblare en suurlemoensap by.
3. Samoesas gemaak met samoesa-deegrepies:
Sit omtrent ’n teelepelvol van die vulsel aan die een kant van die deeg en vou dit dan diagonaal oor die vulsel. Druk liggies om enige lug te verwyder en vou dan oor en oor. Hou die driehoek-vorm en maak seker die vouplekke oorvleuel. Maak netjiese en stywe pakkies.
Die meeste samoesa-deegrepies is só gemaak dat hulle perfek werk. Sodra jy ritme kry, sal dit vinnig gaan. Maak die punt van die deegreep nat met ’n water-en-meel-mengsel of geklitste eier en druk liggies vas. Bestryk elke samoesa met geklitste eier as jy beplan om dit te bak.
4. As jy dit wil bak: Bak 20 tot 30 minute in ’n voorverhitte oond by 180 °C tot goudbruin. As jy wil, kan jy ’n bietjie sesamsade oorsprinkel voordat jy dit bak.
5. As jy dit eerder wil braai: Diepbraai in olie wat verhit is tot 180 tot 190 °C. Moenie die kastrol oorvol maak nie. Braai tot goudbruin onder. Draai dan om en braai totdat die hele samoesa goudbruin is. Dreineer op kombuispapier en sit warm voor met doopsouse.

Groentevulsel vir samoesas
. 30 ml olie
. 1 groot ui, fyngekap
. 2 knoffelhuisies, fyngekap
. 15-30 ml Rajah- matige kerriepoeier of fyngekapte groenrissie of ’n kombinasie van die twee, na smaak
. 1 wortel, geskil en baie fyn gekap
. 1 groot aartappel, geskil en baie fyn gekap
. 250 ml bevrore ertjies
. 1 groenteaftrekselblokkie
. 250 ml warm water
. sout en peper na smaak
1. Verhit die olie in ’n middelslag-kastrol oor matige hitte en braai die uie 2 minute lank. Roer aanhoudend en voeg dan die knoffel en die kerriepoeier en/of rissies by en braai totdat die ui sag is (so 3-5 minute).
2. Voeg die groente, geurmiddels, water en aftrekselblokkie by en roer goed.
3. Sit ’n deksel skuins op die kastrol en laat prut 30 minute. Roer elke nou en dan om te keer dat dit aanbrand. Die aartappel sal begin fyn kook, en dit verdik die vulsel.
4. Wanneer al die groente gaar is, verwyder van die hitte, laat afkoel en gebruik as vulsel vir jou samoesas.